ʼn Man is dood toe die voertuig waarin hy gereis het Saterdagaand op die N2-snelweg in Durban onklaar geraak en ʼn aankomende voertuig hom getref het toe hy uitklim.
Garrith Jamieson, woordvoerder van Rescue Care-paramedici, was omstreeks 22:15 op die ongelukstoneel op die N2 Suid net voor die M1 Higginson-afrit.
Volgens Jamieson het die voertuig onklaar geraak en op die snelweg tot stilstand gekom, waarna ʼn passasier in die voertuig uitgeklim het. ʼn Tweede voertuig het van agter teen die man en die stilstaande voertuig vasgejaag.
“Die passasier is getref en is meters ver van die ongelukstoneel geslinger. Hy het veelvuldige en ernstige beserings opgedoen en daar was niks wat vir hom gedoen kon word nie. Hy is dood verklaar,” het hy gesê.
Volgens Jamieson is nog drie beseerdes op die toneel behandel voordat hulle na verskillende hospitale in Durban geneem is. Dit was nie onmiddellik bekend hoe ernstig hulle beseer is nie.
Polisiebeamptes was op die toneel en sal die voorval verder ondersoek.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
11 Kommentare
Ai! Dis so hartseer.
Dis bitter selde dat ‘n kar sommer net breek. Hy gee kennis. Om dan in die middel van die pad te gaan staan is maar net moeilikheid soek.
Kry jou voertuig, jouself en jou passasiers uit die pad uit.
tragies, om die foto van die wit motor te sien, was die spoed hoog en impak erg
Puik media berigte. ?
M4 en N2, waarskynlik M4 Suid net voor die Higginson Afrit.
Ai, dis so onnodig. ‘n Motor gaan staan nie net nie, hoekom nie in noodbaan gaan ry as jy probleme begin ervaar nie? Of is die noodbane daar ook so min en dun soos hier in GP?
Sterkte aan die persoon se naasbestaandes.