Man geopereer ná skoot in gesig

Marc en Valerie Doubell.

Die sakeman van Kuruman wat Vrydag by ʼn vulstasie op die dorp met ʼn rubberkoeël in die gesig geskiet is, moet ʼn operasie ondergaan.

Marc Doubell (36) is tans in ʼn hospitaal in Bloemfontein waar hy heel moontlik vanaand nog geopereer sal word.

ʼn Veiligheidswag is in hegtenis geneem in verband met die voorval wat by die Puma-vulstasie by die Mokala-winkelsentrum plaasgevind het. Die 37-jarige verdagte sal Maandag in die Kuruman-landdroshof verskyn op aanklag van poging tot moord.

Volgens Doubell se vrou, Valerie, het haar man brandstof laat ingooi by die vulstasie toe hy besluit het om vinnig in die winkel in te hardloop en koeldrank te koop. Die veiligheidswag het Doubell glo belet om enigiets te koop omdat hy nie ʼn masker aangehad het nie.

Doubell het toe na sy voertuig gegaan en ʼn masker gaan haal voor hy terug in die winkel in is om die koeldrank te betaal. “Toe hy uit die winkel gekom het, het hy en die veiligheidswag in ʼn woordewisseling betrokke geraak en toe skiet hy my man in die gesig.”

Marc is in die gesig geskiet. Die foto is vervaag weens die grafiese aard daarvan. 

Doubell is na ʼn hospitaal in Kathu geneem waar sy wond skoongemaak en toegewerk is. Volgens Valerie het die wond egter Sondagoggend baie sleg gelyk. Nadat hul dokter ʼn foto daarvan gesien het, het hy gesê Doubell moet vandag nog geopereer word waarna die egpaar Bloemfontein toe gery het.

“Dit lyk of daar bloeding aan die binnekant is. Sy wang het ook al hoe meer opgeswel en hy kon amper nie meer praat nie. Dit lyk of daar nou meer skade is as wat ons gedink het.”

Valerie gaan intussen by ʼn gastehuis in Bloemfontein tuis aangesien sy weens die koronavirus nie by haar man in die hospitaal mag wees nie.

Brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, het die voorval vroeër bevestig en gesê daar is op ʼn vuurwapen beslag gelê. Lt.genl. Risimati Peter Shivuri, provinsiale polisiekommissaris, het die voorval ten sterkste veroordeel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Rodger17 ·

Wonder waar het hierdie wag su opleiding gekry?Laat dink my baie aan polisie en weermag!

Pierre ·

My dogter het self ‘n ondervinding met ‘n Woolworths werker gehad wat mags behepte houding ingslaan het na sy te veel na sy mening met ‘n vriendin gepraat het wat sy voor die Woolworths raakgeloop het. Die tak se bestuur het GROOT omverskoning gevra na ek hulle ingevlieg het. Maar ja duidelik vat ‘n paar die “mags posissie” te ver kop toe…

Michael 1 ·

Dit is arogantheid van sekere sekuriteits personeel laat my wonder hoe hulle gekeur word of word enigeen aangestel sodat sekuriteits maatskappy maksimum wins kan maak.

Mathys ·

Die wag gaan se die ou was ‘n rassis en die hof gaan nie genoeg bewyse he om te vervolg nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.