Man gevonnis oor verkragting van gestremde meisie

Argieffoto

ʼn Man is vandeesweek in die Upington-streekshof gevonnis agt jaar ná die seksuele aanranding van ʼn meisie wat fisies en verstandelik gestremd is.

Die meisie was in Augustus 2012 sewe jaar oud toe ʼn nabye familielid haar in hul huis in Rosedale in Upington verkrag het.

Brig. Nicky Mills, provinsiale hoof van die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, seksuele oortredings en kinderbeskerming, het gesê die ma van die meisie het haar in die sitkamer gelos en na buite gegaan. Toe sy terugkom, het sy die beskuldigde, ʼn familielid wat by hulle in die huis gewoon het, by die slagoffer gesien. “Die meisie kon vir haar ma sê dat sy seksueel aangerand is.”

Ao Marius Struwig, die ondersoekbeampte, het die beskuldigde kort daarna in hegtenis geneem en hy was sedertdien in aanhouding.

“Die deursettingsvermoë en toewyding van ao Struwig het seker gemaak dat die slagoffer kon getuig. Sy het ʼn tabletrekenaar gebruik om te kommunikeer. Dit was ʼn eerste vir die Noord-Kaapse hof en dit het dit moontlik gemaak dat die slagoffer gehoor kon word en het verseker dat geregtigheid kon geskied.”

Die 36-jarige man, ʼn oom van die meisie, is skuldig bevind het agt jaar tronkstraf opgelê. Die man se naam is in die nasionale register vir seksuele oortreders opgeteken en hy is ook onbevoeg verklaar om ʼn vuurwapen te besit.

Kapt. Koos van der Heever, eenheidbevelvoerder, het ao Struwig ook geloof vir sy uitstekende ondersoekwerk en sy toewyding om ʼn gestremde slagoffer ʼn stem te gee en seker te maak dat geregtigheid geskied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sarel ·

8 Jaar??? My goeie Blikkies!!!! Registet??? Watter register. Hierdir.beskaafde land van ons wat nie eers na sy kinders kan omsien nie

lollapot ·

Adjudant Marius Struwig, ek sê vir jou baie dankie! jy het vir hierdie dogtertjie ingestaan met ALLES wat ‘n ouer moet hê! SALUUT!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.