Man glo deur ‘verkeerspolisie’ geskiet, ontvoer

Die verdagtes is Vrydag in hegtenis geneem. (Foto: Verskaf)

ʼn Lid van die Gautengse verkeerspolisie en een van sy makkers wat hom as ʼn lid voorgedoen het, is Vrydag in hegtenis geneem nadat hulle glo ʼn niksvermoedende motoris gekaap, geskiet en ontvoer het.

Die twee is vasgetrek nadat lede van die Ekurhuleni-metropolisie per toeval hul motor aangekeer het.

Lt.kol. Kelebogile Thepa, woordvoerder van die metropolisie, sê die lid van die verkeerspolisie en sy mede-oortreder is Vrydag om 11:00 in Tembisa in hegtenis geneem.

Lede van die metropolisie het die oggend op ʼn wit Volkswagen Polo afgekom wat roekeloos bestuur. Toe hulle egter die motor wou aankeer, het die verdagtes weggejaag en die polisie moes hulle agternagesit.

Nadat die motor eindelik tot stilstand gekom het, is twee mans daarin aangetref. Hulle was ten volle in die uniform van die Gautengse verkeerspolisie geklee. Die verdagtes se motor was skynbaar ook met blou ligte en ʼn sirene toegerus. Dit het egter ʼn vervalste registrasienommer gehad.

Die metropolisielede het ook ʼn derde man in die motor gevind. Hy was in die maag geskiet en vasgebind.

Die slagoffer se gekaapte motor. (Foto: Verskaf)

Die slagoffer het aan die metropolisie vertel dat hy deur die mans, wat hulself as beamptes voorgedoen het, gekaap is. Hy is daarna geskiet en ontvoer.

“Die nabootsers is onmiddellik geboei en in hegtenis geneem nadat die slagoffer sy beproewing onder die aandag van die beamptes gebring het,” sê Thepa.

Die slagoffer se motor, ʼn Nissan NP 200, is later in Midrand aangetref nadat ʼn opsporingstoestel geaktiveer is. Die besending wat die man vervoer het, was glo skoonveld. Dit is nie duidelik wat presies hy vervoer het nie.

Die twee verdagtes is tans in polisieaanhouding en aanklagte van kaping, ontvoering, poging tot moord, die nabootsing van ʼn polisiebeampte en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie staar hulle nou in die gesig.

Die verdagtes sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.

“Die moontlikheid dat die verdagtes met ander soortgelyke sake verbind kan word, word nie uitgesluit nie aangesien die ondersoek voortduur,” sê Thepa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.