Man ‘in goeie luim’ ná haai-aanval

Argieffoto (Foto: NSRI)

’n Visserman is hospitaal toe geneem nadat hy Woensdagaand by Gqeberha, Oos-Kaap, deur ’n haai gebyt is.

Die 36-jarige visserman het visgevang toe die haai in sy visnette verstrengel geraak het.

Volgens Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), is lede van die NSRI-stasie in Gqeberha omstreeks 19:15 na die strand ontbied. Die stasie het inligting ontvang van ’n visserman wat beseer is op ’n vissersboot nadat hy deur ’n haai gebyt is.

“Paramedici is uitgestuur om die visserman sowat sewe seemyl (sowat 13 km) van Kaap Recife te gaan haal,” sê Lambinon.

“Met paramedici se aankoms by die boot is daar vasgestel dat die visserman bytwonde opgedoen het wat reeds deur sy medebemanningslede behandel is. Hy was in goeie luim en ten volle beweeglik.”

Die man is na die NSRI se basis in Gqeberha geneem waar die Oos-Kaapse nooddienste sy wonde geassesseer het.

“Die man is daarna per ambulans na ’n nabygeleë hospitaal geneem vir verdere mediese behandeling.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.