Man in hof ná Germiston-kleuter se dood

Chevonne Rusch (2). (Foto: Facebook)

ʼn Man het Maandag in verband met die beweerde moord op ʼn tweejarige dogtertjie in die Germiston-landdroshof aan die Oos-Rand verskyn.

Volgens die polisie was die verdagte bekend aan die dogtertjie, wat op sosiale media as Chevonne Rusch (2) geïdentifiseer is.

Lt.kol. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, sê Chevonne is Woensdag by ʼn kliniek in Primrose, Ekurhuleni, dood verklaar nadat die verdagte haar glo na die kliniek gebring het.

Die polisie is ook daarheen ontbied.

“Die kind het kneusplekke aan haar lyf gehad en ʼn verdere ondersoek het tot die inhegtenisneming van die man gelei.”

Chevonne Rusch (2). (Foto: Facebook)

Die verdagte is glo in Bedfordview in Johannesburg aangekeer. Hy bly in aanhouding tot hy op 25 Mei weer in die hof verskyn.

Dit is egter nog onduidelik wat presies tot die kind se dood gelei het.

ʼn Vertroulike bron het aan Maroela Media gesê dat talle bewerings tans gemaak word.

“Ons soek ook antwoorde. Al wat ek kan sê, is dat sy wreed vermoor is.”

ʼn Facebook-blad, Voice for Chevonne Rusch, is intussen op die been gebring.

“Ek bid dat die verantwoordelike mens of mense sal boet vir wat hulle gedoen het. Rus in vrede, Chevonne, jy was vreeslik geliefd deur die Rusch-familie,” het Chantel Oberholzer, wat na Chevonne as haar kleinniggie verwys, op haar Facebook-profiel geskryf.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Alta Alleman ·

Kleine kind wat haarself nie kan verdedig nie. Sluit hom vir ewig toe sodat hy in die tronk kan vrot.

Porseleintjie ·

Hoe vreeslik om te val in die hande van ‘n Lewende God, want wat jy aan’ n kind doen, doen jy aan Hom.

Martie ·

Dit is vreeslik, ek wonder nou net of dit ‘n probleem was wat oor ‘n rukkie kom of is dit nou iets wat sommer net gebeur het??? Kon die familie wat so vir haar omgee nie iets gedoen het om die kind te help nie? Ek wonder oor die tipe van ding! Waar was die Ma?

Ek hoop maar hulle deal met die man in die tronk!!

Misky ·

Hoe kan iemand so iets aan so ‘n mooie en weerlose pragtige dogtertjie doen??? RIV by Jesus, kleine poppie

Yvonne ·

Die pragtige kleutertjie…hoeveel ouerpare hunker na so n dogtertjie…tragies

Louise ·

Wat kry enige iemand daaruit om n kind seer te maak. Hoe siek moet n mens wees. Daai persoon moet kry presies wat daai persoon aan daai arme kind gedoen het. RIV kleine mensie

Nette ·

Vanoggend waar ek hier sit, breek my hart in 1000 stukke. Die tronk is te goed vir hierdie monster, wat ookal met hom in die tronk gaan gebeur, is nie naastenby so erg soos wat die kleine engeltjie moes deurmaak nie! DIT IS TYD DAT ONS REGERING WAKKER SKRIK EN BESEF WAT IN DIE LAND AANGAAN. DIE DOODSTRAF MOET TERUGGEBRING WORD VIR SULKE DADE.

Dries ·

Die afwesigheid van die familie tydens hierdie mishandeling, is verbasend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.