Man in hof vir moord op juffrou

Argieffoto

Die 40-jarige Akanyang Rakodi het Maandag in die Mogwase-landdroshof in Noordwes verskyn in verband met die moord op ʼn onderwyseres.

Brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, sê Rakodi sal tot 14 Julie in aanhouding bly waarna ʼn staatsregsverteenwoordiger hom in die saak sal verteenwoordig.

Rakodi staan tereg op ʼn aanklag van moord op die onderwyseres, Khumontle Mokgosi. Maroela Media het vroeër berig Mokgosi se liggaam is op 29 Junie gevind in ʼn huis wat sy gehuur het in Magong Village naby Mogwase. Haar bure en lede van die skoolbeheerliggaam het ondersoek ingestel toe sy nie vir werk opgedaag het nie. Mokgosi se hande en voete was vasgebind. Sy is vermoedelik verwurg.

Buiten ʼn aanklag van moord op Mokgosi, staan Rakodi ook tereg op aanklagte van diefstal en die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.

Rakodi is Vrydag in Dinokana buite Zeerust aangekeer en in hegtenis geneem. Hy het glo die oorledene se bankkaart in sy besit gehad, asook items wat onlangs gekoop is, soos klere, ʼn motorbattery en alkohol.

ʼn Voorlopige ondersoek het aan die lig gebring dat Mokgosi se bankkaart gebruik is om kontant uit ʼn kitsbank in Northam en Zeerust te onttrek. Beamptes het ook Mokgosi se twee selfone opgespoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.