Man op plaas met strykyster gemartel

Argieffoto: Lorraine Claasen

ʼn Man is in ʼn ernstige toestand nadat hy Dinsdagaand op ʼn plaas naby Bela-Bela in Limpopo deur aanvallers oorval, vasgebind en met ʼn warm strykyster gebrand is.

Kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het omstreeks 18:00 by Springbokvlakte gebeur.

Volgens Ngoepe het vyf onbekende mans in ʼn blou Fiat Uno by die plaas aangekom en die plaasbestuurder gevra of hulle 100 hoenders kan koop. Die bestuurder het een van hulle na die hoenderhokke geneem waar die man ʼn vuurwapen te voorskyn gebring het.

“Die aanvaller het die slagoffer ontwapen, hom aangerand en met ʼn elektriese kabel vasgebind. Die ander vier mans het ook ingekom en die man begin aanrand. Hulle het geld geëis. Gedurende die beproewing is die man met ʼn warm strykyster gebrand totdat hy hulle gewys het waar daar geld is,” het Ngoepe gesê.

Hy wou nie spesifieke besonderhede bekendmaak oor waar op die plaas die aanranding en marteling plaasgevind het nie omdat dit die ondersoek na die saak kan beïnvloed. Hy het wel bevestig van die plaaswerkers is ook deur die aanvallers aangerand.

Die vyf aanvallers het uiteindelik met ongeveer R12 000 kontant op die vlug geslaan. Die polisie is kort daarna na die toneel ontbied.

Volgens Ngoepe is die plaasbestuurder na ʼn hospitaal gehaas.

“ʼn Saak van gewapende roof word ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Jaques ·

Ekskuus, het ek reg gelees, ‘n saak van gewapende roof is oopgemaak, nie ‘n saak van gewapende, aanranding met die doel om te moor, en heel moontlik besit van onwettige vuurwapen nie?
In SA is daar een woord wat jy nie eens moet aan dink nie, dan word jy gestenig, maar boere kan gemoor en verniel word rondom elke hoek, en ons moet nett agteroo sit en niks doen nie.
Ek sien ‘n sekere meme in my agterkop, dis van ‘n tannie wat deur twee toilet rolle kyk wat se, ek sien nog groot kaf kom.

IK ·

Inligting kom van binne die plaas se doendinge. Sorg dat julle meer as een persoon is en ‘n veilige afstand mekaar met vuurwapens dek. Die gemors moet natuurlik daarvan weet. Beste is om nie transaksies met onbekendes te doen op plase, plotte.

Erich ·

Vyf mans in een klein uno. Eenhonderd hoenders moet ook ingaan. Die plaas bestuurder moes kon sien hier kom moeilikheid.

Lukas ·

Daarsy Erich, tiepies Saffa, blammeer die victim. Dan moes die blankes mos sien wat gaan gebeur na apartheid of hoe? og is die victim dán reg?

Anelle ·

N saak van gewapende roof? Maar die man is aangerand, gebrand en in erstige toestand? Die stukkie kommentaar beteken ook seker niks. Soos dit daagliks gaan is geen hoop vir die land se toekoms.

Anoniem ·

Goeie kommunikasie en verhoudings met jou plaaswerkers, beloning vir inligting en sluit die plaas hekke kan baie bydra tot plaasveiligheid. Ons moet elke onbekende voertuig wat die plaas betree dadelik as potensiële gevaar beskou. Die kostes daaraan verbonde om plaaswerkers met radio’s toe te rus en selfs een in ‘n verskuilde plek naby die ingang te plaas kan nie vergelyk word met die moontlike gevolge van ‘n aanval nie. Ons moet net op ons voete dink mense.

Lourens ·

Hou op fake nuus versprei as die aanval vandag was kon dit nie 18h00 gebeur het nie dit is nou net 18h00 en die Foto bo wys argief materiaal watter jaar se insident was dit indien enige HOU OP OM MENSE OP LOOP TE SiT

Sune van Heerden ·

Dagsê Lourens

Die eerste sin van die berig bevestig die voorval het Dinsdagaand plaasgevind (dit is vandag Woensdag).
Die misdaadtoneellint is sommer net ‘n argieffoto (“stock photo”) wat ons ter illustrasie by die berig gebruik.
Die feite is alles bevestig soos in die berig genoem.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Reine waarheid ·

“Baie Seer”die toestande en gebeure in ons land laat diep letsels. Geloof word tot uiterste gelouter, die HERE weet van alles HY sal ons trane sien en ons weer heelmaak wakker wees liewe mense. Sterkte.

katheleen ·

CR, ons doen n beroep dat jy die misdaad stop sit met onmiddelik effek. Dis onaanvaarbaar dat die onskuldige mense so uitgemoor en gemartel word. DOEN IETS as president van ons land.,

liezl ·

Ek stem! Gewapende roof?! POGING TOT MOORD is d minimum aanklag!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.