Man se lyk op seiljag gevind wat uitspoel

Foto: SAPD

Die liggaam van ʼn Franse burger is Saterdagoggend op ʼn seiljag gevind wat by Southbroom-strand tussen Port Edward en Margate aan die KwaZulu-Natalse kus uitgespoel het.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het op sy Twitter-blad gesê nadat die seiljag uitgespoel het, is nadere ondersoek ingestel. Dit is toe dat die ontbindende liggaam van die man aan boord gevind is.

“Volgens die ritboek was hy van Port Elizabeth af onderweg. Rolspelers is steeds op die toneel,” lui die twiet.

John Nicholas, bevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Port Edward, sê NSRI-bemanning is om 06:30 vanoggend ontbied nadat die seiljag op die strand by Southbroom uitgespoel het. Nicholas sê die NSRI het saam met die polisie, die polisie se soek-en-reddingspan, die plaaslike buurtwag en ambulansdienste na die toneel gegaan.

“By ons aankoms op die toneel het die polisie bevestig ʼn volwasse man se liggaam is op die seiljag gevind en die liggaam is deur die forensiesepatologiedienste weggeneem. ʼn Geregtelike doodsondersoek word gedoen en die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid (Samsa) en die seereddingskoördineringsentrum (MRCC) help met die ondersoek,” sê Nicholas.

Dit is nie tans bekend wat die oorsaak van die man se dood was nie. Die oorledene se naam is ook nog nie bekendgemaak nie.

Die seiljag is voorlopig vasgemaak waar dit uitgespoel het en sal binnekort na ʼn veilige stoorplek geneem word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieterv ·

Sy siel het rus gevind.
Hy is heen terwyl hy besig was met dít wat vir hom vreugde gebring het.
RIP seeman!

Barend ·

Forensiese patologiedienste dink ek nie kan een woord wees nie; én, klink dit nie beter nie om te sê: sentrum vir koördinering van seeredding?

Elsa ·

Siestog, dis darem tragies en sleg om so alleen en so ver van jou naasbestaandes af te sterwe te kom. Hy was seker op ‘n alleenvaart om die wêreld of om Afrika en niemand was naby om te help toe hy siek geword het of ‘n hartaanval gekry het nie. Een ding waaroor ek bly is, is dat dit nie nog ‘n geval was van ‘n oorsese toeris wat hier vermoor is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.