Man sit lank vas toe bakkie in boom vasry

Die ongelukstoneel waar ‘n bakkie in ‘n boom vasgery het. (Foto: Verskaf)

ʼn 28-jarige man is ernstig beseer toe sy bakkie gerol en teen ʼn boom in Ferreira-straat in Mbombela (Nelspruit) tot stilstand gekom het. Die brandweer het lank gespook om die man uit die voertuig te bevry.

ER24 en Nelspruit se brandweerdiens is Vrydag om 17:15 na die toneel ontbied en het die bakkie teen die kant van ʼn boom aangetref. “Die man was in die voertuig vasgekeer. Die brandweer moes gespesialiseerde toerusting gebruik om hom uit die voertuig te bevry en die poging het langer as ʼn uur geduur,” sê ʼn woordvoerder van ER24.

Toe die man bevry is, het paramedici gesien hy het ʼn ernstige besering aan sy been en ʼn paar skrape aan sy arms opgedoen. “Die man is op die toneel behandel en van pynmedikasie voorsien, voor hy vir verdere behandeling na Mediclinic Nelspruit vervoer is.”

In ʼn ander soortgelyke ongeluk is twee jong mans beseer toe hul voertuig in ʼn boom langs Frikkie Meyer-boulevard in Vanderbijlpark, Gauteng, vasgery het.

Die ongeluk het Vrydagaand net voor 20:30 plaasgevind.

“ER24 het op die toneel aangekom en die kar regop teen ʼn boom aangetref. Twee mans, wat glo 20 jaar oud is, het buite die voertuig gelê,” sê die woordvoerder van ER24.

Die mans het kritieke tot ernstige beserings opgedoen en gevorderde lewensondersteunende hulp ontvang voordat hulle na die naaste Mediclinic en die Sebokeng Provinsiale Hospitaal gehaas is.

Plaaslike owerhede was op albei tonele om ondersoek in te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

melaney ·

Dié bome wat alewig in die strate rondloop. Iets moet hieraan gedoen word.

Pieter ·

En dit klink asof die eens uitstekend opgeleide personeel van die brandweer ook deesdae al hoe meer sukkel om hul werk gedoen te kry…..

Niklaas ·

Wees bly dat paramedici en brandweer hulp personeel opdaag by die ongeluks toneel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.