Man sterf ná 454 dae in hospitaal

Kallie du Preez in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

’n Gesinsman van Kriel in Mpumalanga het 454 dae lank ’n moedige stryd gevoer nadat hy verlede jaar positief vir Covid-19 getoets het.

Hy het egter verlede week sy gesondheidstryd verloor.

Kallie du Preez (56) het twee verjaardae in die waakeenheid van ’n hospitaal deurgebring en 57 kg verloor voordat hy verlede Woensdag – skaars ’n maand ná sy 56ste verjaardag – sy laaste asem uitgeblaas het.

“Covid het sy longe heeltemal vernietig,” vertel sy vrou, Amanda du Preez.

Kallie het maar 38 kg geweeg ten tyde van sy dood.

Die eens gesonde eggenoot, pa en oupa was ’n instandhoudingstoesighouer by die Matla-kragstasie toe hy in Junie 2021 positief getoets het vir Covid-19. Hy het kort daarna net soos menige koronaviruspasiënt begin sukkel om asem te haal en is met lae saturasie (suurstofvlak) in ’n private hospitaal op Trichardt opgeneem.

Min het Kallie geweet dat hy eers 200 dae later weer in sy eie bed sou slaap.

Kallie du Preez voordat hy positief getoets het vir Covid-19. (Foto: Verskaf)

Alicia van der Merwe, Kallie se volwasse dogter, vertel dat haar pa kort ná sy aanvanklike opname in die hospitaal op Trichardt op ’n ventilater en onder verdowing geplaas is. Hy is weke later bygebring, van die ventilator gehaal en met ’n trageotomiebuis toegerus.

Toe doen Du Preez die sogenaamde OXA-48-bakterie in die hospitaal op. Dit is ’n soort longontsteking wat veral in hospitale opgedoen word. “Dit het sy longe aangetas en hom baie swak gemaak,” vertel Amanda.

Ma en dogter onthou dat Kallie op 12 Augustus 2021 na ’n rehabilitasiesentrum in Johannesburg oorgeplaas is. Hy kon in daardie stadium nie meer loop nie. Kallie se toestand het egter in die rehabilitasiesentrum versleg en hy is sowat agt dae later in die Life Bedford Gardens-hospitaal aan die Oos-Rand opgeneem.

Hiér het hy sowat drie maande deurgebring voordat hy in November na nóg ’n rehabilitasiesentrum oorgeplaas is. “Daar het dit goed én sleg gegaan,” sê Alicia. Op dag 200 – die dag voor Kersfees –  kon hy vir die eerste keer huis toe gaan. Hy is egter op 30 Desember 2021 in die Mediclinic Trichardt opgeneem vir behandeling, waar hy weer longontsteking gekry en vir die tweede keer positief getoets het vir Covid-19.

Kallie was sedertdien in en uit die hospitaal voordat hy verlede Woensdag (7 September) in die hospitaal op Trichardt oorlede is.

Kallie du Preez in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

“Ek was vir 454 dae elke dag aan sy sy,” vertel Amanda nou. Sy glo dat die Here haar in dié tydperk op haar man se dood voorberei het.

“Daar het ’n klomp mense in Kriel aan Covid doodgegaan terwyl Kallie geveg het om sy lewe. ’n Vrou het eendag vir my gesê sy weet nie watter pad die maklikste is nie: Sy wie se man binne twee weke van haar weggeneem is, of my pad …

“My pad was moeilik, maar die huis is nie skielik leeg nie,” kom Amanda tot die slotsom.

Ma en dogter vertel dat Kallie altyd positief was en by hospitaalpersoneel as ’n vegter bekend gestaan het.

“Hy was ’n een-in-’n-miljoen-pa,” sê Alicia.

Du Preez word oorleef deur sy vrou, Amanda, dogter, Alicia, seun, Kallie, skoonseun, Tiaan, kleinseun, Ruanco, en twee susters, Adelle en Magda.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Antie Sarie ·

Klein foutjie in die artikel. Hy is nie dood aan “covid” nie. Hy het n infkesie opgestel in die hospitaal. Dit word duidelik gestel in die artikel.

Truman Burbank ·

Ek twyfel. Hulle dink mense kan nog bang gepraat word

Truman Burbank ·

Ek sou ook “simparie” betoon het. Maar walg in fear mongering

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.