Man sterf toe huis in Sandton afbrand

Die brand het Dinsdag in Douglasdale uitgebreek. (Foto: Verskaf)

ʼn Man is Dinsdagaand dood toe ʼn huis in Douglasdale in Sandton afgebrand het. Nog ʼn man wat in die huis was toe die brand uitgebreek het, het met matige beserings ontsnap.

Dié brand hou glo nie verband met aktiwiteite van ʼn vermeende brandstigter wat nabygeleë woonbuurte teister nie.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, sê paramedici is kort voor 19:00 na die spogwoonbuurt ontbied, ná berigte dat ʼn huis aan die brand geraak het met inwoners in die huis vasgekeer.

Die Johannesburg-metro se brand- en reddingsdienste het daarin geslaag om die brand te blus, maar ʼn groot gedeelte van die huis het reeds afgebrand.

“Paramedici het ʼn man wat in die huis was ondersoek, maar slegs ligte beserings is vasgestel. Nog ʼn volwasse man is in die huis aangetref. Hy is op die toneel dood verklaar,” sê Herbst.

Dit is nog nie bekend wat die brand veroorsaak het nie, maar owerhede was op die toneel en ondersoek die saak verder.

Wahl Bartmann, uitvoerende hoof van Fidelity Services Group, het intussen aan Maroela Media gesê die jongste voorval hou skynbaar nie verband met onlangse huisbrande in die gebied, wat glo deur ʼn vermeende brandstigter gestig word nie.

“Op grond van die inligting wat ons bekom het, lyk dit nie of hierdie voorval dieselfde modus operandi het as voorvalle waarby die gesoekte brandstigter betrokke is nie,” sê Bartmann.

Fidelity het verlede maand ʼn beloning van R100 000 uitgeloof vir enige inligting wat tot die inhegtenisneming van die vermeende brandstigter in Johannesburg kan lei.

In die afgelope 16 maande is ʼn aantal brande by huise in die noordelike voorstede van Johannesburg aangemeld. Dit sluit in gesogte woonbuurte soos Bryanston, Houghton, Dunkeld, Illovo en Hyde Park. Die jongste brand is ook deel van die noordelike voorstede en enkele kilometer van Bryanston.

“Die verdagte [vermeende brandstigter] is op hierdie stadium nog op vrye voet,” sê Bartmann.

“Ons volg nog moontlike leidrade op en werk saam met owerhede. Aangesien hierdie ʼn aktiewe ondersoek is, kan ons egter nie enige verdere inligting bekend maak nie.”

Bartmann sê die beloning is steeds van krag en het lede van die publiek opnuut aangemoedig om met Fidelity in kontak te kom by 083 939 0300 indien daar enige inligting oor die vermeende brandstigter is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lillian ·

Brandstigters doen dit om aandag te trek. Kyk maar wie kom staan rond terwyl die brand geblus word … hy’s dalk tussen die skare.

Suzette ·

Die krimineel keer dikwels terug na sy misdaad toneel se hulle

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.