Man sterk goed aan ná hoeweaanval

(Argieffoto: Kent Williamson)

Die 50-jarige man wat die naweek in ʼn hoeweaanval gewond is, sterk goed aan in ʼn Pretoriase hospitaal, terwyl sy vrou (48) en twee seuns (onderskeidelik 12 en ses jaar oud) traumaberading ná die voorval sal ondergaan.

Die gesin wil in hierdie stadium nie hul name bekend maak nie.

Llewellyn Hemmens, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir die Noord-Streek, het gesê die man het Saterdag ʼn operasie ondergaan nadat hy Vrydag in die vroeë oggendure in die aanval op die kleinhoewe by Doornrandjies, in die Centurion-omgewing, geskiet is.

Die egpaar het omstreeks 04:00 wakker geword van ʼn alarm wat loei, maar het aangeneem dit was ʼn dier wat die alarm laat afgaan het. Toe die alarm egter ʼn tweede keer afgaan, het die man opgestaan om te gaan ondersoek instel.

ʼn Onbekende getal aanvallers het vermoedelik ses skote op hom geskiet kort nadat hy by die voordeur uit is. Die man is in die been gewond, terwyl ʼn tweede koeël hom skrams teen die kop getref het.

Volgens Hemmens is die man dadelik weer die huis binne, waar hulle die paniekknoppie gedruk en ʼn noodboodskap op sosialemediagroepe uitgestuur het.

Veiligheidsbeamptes van Scorpion Sekuriteit was kort daarna op die toneel, gevolg deur die Erasmia-polisie. ʼn Vriendin wat in die omgewing woon het haar ook na die huis gehaas, waar sy noodhulp op die man begin toepas het.

“Die veiligheidsmaatskappy was werklik professioneel en menslik. Hulle het die toneel beveilig, behoorlik afgesper en ʼn deeglike ondersoek gedoen,” het Hemmens gesê.

Die man het reeds ʼn operasie ondergaan, maar die koeël word in hierdie stadium nie uit sy been verwyder nie. Hy ontvang onder meer fisioterapie en volgens Hemmens sterk hy baie goed aan. Sy vrou en kinders is nie tydens die voorval beseer nie. Hemmens sê dit gaan ook goed met hulle en dat hulle deur die gemeenskap ondersteun word.

Enkele huishoudelike items is tydens die voorval uit die kothuis enkele meter van die hoofhuis gesteel. ʼn Familielid wat gewoonlik daar woon, was nie tydens die aanval tuis nie.

Hemmens het gesê niemand is nog in verband met die voorval aangekeer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.