Man tronk toe na moord op ma, dogter

Shane Boucher

Shane Steve Boucher (38) is tot effektief 25 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op ʼn bejaarde ma en haar dogter.

Boucher het in die hooggeregshof in Pietermaritzburg skuldig gepleit op die moord op Rita Westpfahl (77) en haar dogter Carol Westpfahl (58). Hy het ook op ’n aanklag van diefstal skuld beken.

Die ma en dogter is in Mei in hul huis in Oribi aangeval en vermoor.

Die hof het gehoor dat Boucher die vroue al die afgelope 15 jaar ken en naby hulle gewoon het.

“Hy het op die dag van die voorval bier gedrink by sy huis in Thornville voor hy na die Oribi-omgewing is om by ʼn vriend te gaan kuier waarna hy Durban toe sou gaan,” het Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), gesê.

Sy vriend was nie tuis nie en hy het by die ma en dogter se huis gestop. “Hy en Rita het glo saam gedrink en sy het hom na bewering gevra om oor te slaap aangesien hy te veel gedrink het om verder te reis.”

Boucher het in sy pleitverduideliking aangevoer dat daar die aand beurtkrag was en dat hy in die middel van die nag kombuis toe is om water te drink.

“Hy het ʼn teenwoordigheid agter hom gevoel en sonder om te kyk wie dit was, het hy ʼn mes uitgepluk en Rita twee keer in die nek gesteek.”

Rita en Carol Westpfahl (Foto’s: Facebook)

Boucher het na die voorval probeer vlug, maar terwyl hy sy sak gekry het, het hy in Carol vasgeloop. “Hy was bang dat sy hom sou kon identifiseer; so toe besluit hy om haar ook te vermoor.”

Hy het hierna in Rita se motor gevlug en na Durban gery waar hy op ʼn strand gebly het tot hy in Bluff in hegtenis geneem is. Hy het in ʼn kafee ingegaan om brood te koop toe ʼn polisiebeampte hom herken het.

Adv. Candy Kander, die staatsaanklaer, het ʼn slagofferimpakverslag van Rita se ander dogter in die hof voorgehou. Dié dogter het gesê sy kan nie herstel van die verlies van haar ma en suster nie en veral nie aan die hand van iemand wat hulle goed geken het nie. Sy het gesê haar ma en suster was gawe omgeemense en dat sy hulle baie mis.

Boucher is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op Rita, 25 jaar tronkstraf vir die moord op Carol en vyf jaar tronkstraf op aanklag van diefstal. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Die regter het in vonnisoplegging in ag geneem dat Boucher ’n eerste oortreder was met geen vorige of hangende veroordelings nie. Hy was ook berouvol en het sy samewerking aan die owerhede gegee toe hy in hegtenis geneem is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Henri ·

Boosheid neem veelvoudige vorms aan. Baie sterkte vir die familie van die slagoffers.

hpven ·

Gelyklopende tronkstraf? Maw , of jy een of dertig mense vermoor, die tronkstraf bly dieselfde. Belaglik om die minste te sê…

Sarel ·

Due Vonisse in SA is onvoldoende en vorm deel van die probleem rondom misdaad.
” Gelyklopend” moet geskrap word en vervang word net
” geen keuse vir Parool”

Casper ·

Hy het sy samewerking gegee maar na Durban gevlug.Hoekom hethy homself nie dadelik na die voorval aan die polisie oorhandig nie.

Miena ·

Was my aanvanklike vraag ook terwyl ek die berig gelees het

JM ·

Alkoholverslaafdheid die oorsaak van menige onnodige tragedies. Wanneer gaan die mensdom ooit leer?

Perdeby ·

Wt ‘n grap 25 jaar vir 2 moorde, is dit nie om van naar te word nie?

Stephanus ·

Pateties!
Enige moordenaar het die reg op lewe verbeur.
En moet aan sy nek gehang word, vir 3 dae lank – As voorbeeld vir alle voornemende oortreders.

Miena ·

Klink amper asof jy uit ervaring praat – in die beroep gestaan het (as laksman) dalk baie baie jare gelede. Met n vonnisoplegging was daar mos gese…”hiermee word jy die doodstraf opgele en jy sal aan die nek hang tot die dood…” En nogal hang vir 3 dae lank se jy..

VaalDonkie ·

Ek ken daai gesigsuitdrukking goed. En ek laaik dit niks.

Miena ·

Sal dit daai uitdrukking wees van … wag maar ek kom terug eendag…

Niklaas ·

So , hierdie koelbloedige moordenaar is dus ‘n kandidaat vir parool oor sowat R 13 jaar of minder. Sowat 45 jaar tronkstraf klink eintlik meer billik . Hy verdien geen versagting nie. Ek kan net my kop skud

Richard ·

Die grootste vloekwoord in S.A. is “gelyklopend”. Pleeg een moord en kry die res gratis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.