Man tronk toe vir moord op eksmeisie, ma

(Foto: Maroela Media/ Jhua-Nine Wyrley-Birch)

Die 36-jarige Boitshoko Abednigo Swanepoel is Dinsdag in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes, twee lewenslange vonnisse opgelê vir die dubbele moord op sy eksmeisie en haar ma.

Hy is ook ’n verdere tien jaar tronkstraf opgelê nadat hy sy tweejarige dogter en sy eksmeisie se broer probeer vermoor het.

Die voorval het op 25 September 2018 by sy eksmeisie se huis in Lonely Park buite Mahikeng plaasgevind.

Lt.kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder, sê Swanepoel is dié dag na sy eksmeisie se huis om met haar te praat oor ’n hofbevel teen hom. ’n Woordewisseling het tussen hom en sy eksmeisie se 52-jarige ma gevolg.

“Swanepoel het toe sy vuurwapen uitgeruk en sy eksmeisie, haar ma en hul tweejarige dogter geskiet,” sê Funani.

“Die eksmeisie se broer het die geweerskoot gehoor en by die huis gaan ondersoek instel, waar Swanepoel toe op hom ook geskiet het.”

Die tweejarige is met ernstige beserings na die Baragwanath-hospitaal in Johannesburg gehaas.

“Swanepoel het ná die skietery van die toneel gevlug en die polisie het hom op 28 September in die Setlagole-nedersetting by Mahikeng aangekeer. Hy is sedert sy inhegtenisneming agter tralies.”

Swanepoel is skuldig bevind op twee aanklagte van moord, waarvoor hy twee keer lewenslank gevonnis is, en twee aanklagte van poging tot moord, waarvoor hy tien jaar tronkstraf gekry het. Die hof het beveel dat die twee lewenslange vonnisse gelyklopend uitgedien word.

Hy is verder onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit ingevolge artikel 103 van die Wet op Vuurwapenbeheer (wet no. 60 van 2000).

Lt.genl. Sello Kwena, die provinsiale polisiekommissaris in Noordwes, en die direkteur van openbare vervolging, dr. Rachel Makhari-Sekhaolelo, het die vonnisse verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

TruthDealer ·

Sluit toe en smelt die sleutel. Erg genoeg om op volwassenes te skiet maar op n 2jarige??

Nierkie ·

Die hof besluit nie dat 2 lewenslange vonnisse gelyklopend uitgedien word nie. Die wet bepaal al is daar 100 lewenslange vonnisse bly dit lewenslank – wat minimum 25 jaar is. Te min

Amelia ·

Is ander lande se lewenslank nie 75 jaar nie is dit hoekom dit gaan soos dit gaan lewenslank moet jy gaan dood in tronk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.