Man tydens boendoehof aan die brand gesteek

(Argieffoto: Kent Williamson)

Die polisie in Giyani in Limpopo het ʼn soektog van stapel gestuur na die verdagtes ná ʼn onbekende man tydens boendoegeregtigheid gewelddadig aangerand en aan die brand gesteek is. Die voorval het Vrydag by Sikhunyani plaasgevind.

“Die man is deur lede van die plaaslike gemeenskap aangerand omdat hulle hom daarvan verdink het dat hy ʼn plasma-TV gesteel het,” sê brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie. “Die slagoffer is voorgekeer toe hy in ʼn taxi na Giyani gery het. Die ontstoke skare het hom uit die voertuig gegryp. Hy is met klippe en ander voorwerpe bestook voor hy gedwing is om hulle na die huis te neem waar hy die TV-stel gesteel het. Hulle het hom daarna aan die brand gesteek.”

Die polisie is ontbied en kon die slagoffer red terwyl die gemeenskap in verskillende rigtings weggehardloop het. Hy is na ʼn hospitaal geneem, maar het later aan sy beserings beswyk.

Die man se identiteit is nog nie bekend nie. Hy het slegs swart en blou tekkies met “Jordan” daarop aangehad.

Genl.maj. Jan Scheepers, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het die gemeenskap gewaarsku om nie die reg in eie hande te neem nie. Hy het wetsgehoorsame burgers gemaan om die polisie by te staan in die ondersoek na dié gewelddadige moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Genl maj Scheepers, ek praat die optrede nie goed nie maar as jul die job kan en reg doen soos per wetgewing sou dit nie nodig gewees het nie, die gemeenskap raak nou keelvol.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.