Man uit hospitaal ná landgoed-aanval

Johannes en Marietha Willemse (Foto: Verskaf)

Johannes Willemse word Woensdag uit die hospitaal ontslaan. Hy vra egter na sy eggenoot van die afgelope 55 jaar. Al ly die 86-jarige wewenaar aan Alzheimer se siekte, begryp hy dat sy geliefde vrou nie meer met hom is nie.

Johannes het die naweek se aanval op die Pinnacle Point-landgoed in Mosselbaai oorleef wat die lewe van sy vrou, Marietha, geëis het.

Marietha is sedert die aanval veras en ’n gedenkdiens sal volgende Donderdag vir haar gehou word.

Dr. Llewellyn Curlewis, strafregkenner wat namens die egpaar se familie as woordvoerder optree, het Woensdagmiddag gesê Johannes – ’n lyer aan Alzheimer se siekte en demensie – begryp dat sy vrou nie meer met hom is nie.

“Iets van hierdie tragedie het hom getref. Hy vra waar sy vrou is en het al trane gestort.”

Kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, sê die nadoodse ondersoek is reeds afgehandel. Die uitslag daarvan kan egter nie bekend gemaak word nie, aangesien dit deel van die polisie se ondersoek uitmaak.

Forensiese ondersoekers was teen Dinsdag nog besig om die moordtoneel in die luukse Pinnacle Point-landgoed te fynkam.

“Daar is egter nog geen deurbraak wat betref ’n inhegtenisneming gemaak nie,” sê Pojie.

Maroela Media het vroeër berig die egpaar is Saterdag in hul dogter se huis op die landgoed oorval terwyl dié op haar wittebrood was. Die egpaar se huis is reg langs hul dogter se huis op die landgoed geleë en hulle het ’n ogie langsaan hou.

Johannes het Saterdag omstreeks 10:00 alarm gemaak by die bure, waarna ondersoek ingestel is en Marietha in die slaapkamer aangetref is. Die polisie is ontbied en Marietha se liggaam is in ʼn stoel aangetref. Sy het ʼn wond aan haar nek gehad.

Johannes het verskeie steekwonde tydens die aanval opgedoen.

Pojie doen weereens ’n beroep op die publiek om enige inligting oor die voorval by die betrokke ondersoekbeampte, ao. Geoffrey Moos, by 044 606 5631 of 079 163 7659 aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Hennie Biebouw ·

Sou graag wou weet presies wanneer die wewenaar amptelik met Alzheimer se siekte gediagnoseer was.

melaney ·

Ek ken hulle. Die man is al ‘n geruime tyd lank ‘n alzheimer lyer. Hy het net mooi niks met sy vrou se moord te doen nie.

domheks ·

Ek dink die landgoed/oord het ‘n paar vrae om te beantwoord. Is daar binne kameras? Mens sal nogal verwag dat daar behoorlike sekuriteit sou wees.

Jannie van Niekerk ·

Regtig? Met ‘n openbare wandelpad wat deur die oord loop waarop enige Jan Rap en sy maar toegang kry?

Misky ·

My hart breek vir die arme oom. Innige simpatie oom, dis so hartseer en onnodig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.