Man vas ná gru-ontdekking

Argieffoto: SAPD/Facebook

ʼn 33-jarige verdagte is in hegtenis geneem nadat inwoners van ʼn informele nedersetting in Wolseley in die Wes-Kaap Saterdagaand gesien het hoe hy iets sleep. Inwoners het die polisie omstreeks 23:00 ontbied en hulle het op die liggaam van ʼn 20-jarige vrou afgekom.

“Die verdagte, wat in die gebied woon, is daarna in hegtenis geneem,” het brig. Novela Potelwa, polisiewoordvoerder, gesê.

Die polisie is Sondag weer na die gebied ontbied nadat ʼn verbyganger ʼn vlak graf in ʼn oop stuk veld ontdek het.

Met die hulp van die forensiese patologiedienste is ʼn vrou, wat nog nie geïdentifiseer is nie, se liggaam opgegrawe. ʼn Verdere deursoeking van die gebied het tot die ontdekking van nog ʼn graf, nie ver van die eerste een nie, gelei. Nog ʼn liggaam, waarvan die identiteit, ouderdom en geslag nog bepaal moet word, is daar gevind.

Kundiges van die polisie, onder wie lede van die honde-eenheid, speurders en vingerafdrukdeskundiges, het tot laat Sondag op die toneel gewerk. Nadoodse ondersoeke sal nou gedoen word.

Die polisie het mense met inligting oor die identiteit van die slagoffers, of wat tot hul dood gelei het, gevra om sers. Pieters by 079 894 0195 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.