ʼn Man wat na bewering verbind word met ʼn voorval waarin ʼn wit leeu in Januarie 2017 by ʼn wildsreservaat in Limpopo vergiftig is voordat die dier se pote en kop verwyder is, is in hegtenis geneem.
Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het Sondag gesê die 28-jarige man is in die Alldays-gebied vasgetrek. Hy is die tweede verdagte wat in verband met dié voorval in hegtenis geneem word.
Ngoepe het gesê die man is na bewering een van vier verdagtes wat op 31 Januarie 2017 by die wildreservaat vergifte vleis in die leeus se kamp gegooi het. Een van die leeus het die vleis gevreet en gevrek. Die verdagtes het daarna die leeu se pote en kop verwyder en probeer om die dier se vel ook te verwyder voordat hulle van die toneel gevlug het.
ʼn Intensiewe ondersoek deur die polisie het tot die inhegtenisneming van die twee verdagtes gelei, maar die ander twee verdagtes is steeds op vrye voet. Die 28-jarige man sal in hierdie week in die Bochum-landdroshof verskyn.
In ʼn onverwante voorval het die polisie ook die afgelope naweek twee verdagtes in die Malamulele-distrik naby Giyani in hegtenis geneem nadat die mans glo onwettig ʼn ietermago, wat ʼn beskermde spesies is, in hul besit gehad het. Die mans, onderskeidelik 31 en 40 jaar oud, sal binnekort in die Malamulele-landdroshof verskyn.
mag hulle tot die letter van die gereg vervolg word.
Goeiste! Alldays? Wonderlik! Ons hier is nie gewoond dat enige iemand vir wilddiefstal, strikke, honde jag aangekeer word nie.
MM, volg asb die berig op sodat ons ook die naam en foto van die verdagte/s kan bekom.