Man vas vir moord op veiligheidswag

Die vuurwapens en ammunisie waarop die polisie beslag gelê het (Foto: SAPD)

ʼn 39-jarige verdagte is in hegtenis geneem in verband met die moord op ʼn veiligheidswag verlede week in Limpopo.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, sê die wag, Matshembe Maphambanyene (40), se liggaam is Vrydag met ʼn koeëlwond in die waghuisie by die Groblersbrug-grenspos gevind.

Dié wag het saam met een van sy kollegas die Donderdag omstreeks 18:00 vir nagdiens aangemeld. Sy liggaam is die volgende oggend deur ʼn ander kollega in die waghuisie ontdek. Sy dienspistool was ook nêrens te vinde nie.

Die verdagte is vier dae later op Onverwacht, digby Lephalale, vasgetrek.

Van die ammunisie waarop beslag gelê is (Foto: SAPD)

“Met sy inhegtenisneming het die polisie op twee vuurwapens en 15 rondes ammunisie beslag gelê,” sê Mojapelo.

“Voorlopige polisieondersoeke dui daarop dat die vuurwapens aan die maatskappy behoort het waar die oorledene en die verdagte albei in diens was. Een van dié vuurwapens is heel moontlik gebruik om die wag dood te skiet.”

Die verdagte sal na verwagting eersdaags in die landdroshof op Phalala verskyn. Hy sal teregstaan op aanklagtes van moord, roof asook die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Genl. Samuel Manala, die waarnemende provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, het die vinnige inhegtenisneming geloof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hennie J ·

Die berig gee meer vrae as antwoorde. Wat het die ou opgepas by die grenspos, die polisie en/of doeanebeamptes?

Misky ·

Die berig is baie verwarrend en nie duidelik nie. M.a.w. die verdagte was n mede werker en dan ook veiligheidswag volgens 3de laaste paragraaf

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.