Man veilig ná roeiplank in see omslaan

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

ʼn Man is Dinsdagmiddag op die rotse naby Groot‑Paternoster-strand in die Wes-Kaap aangetref nadat hy langer as ʼn uur in die see rondgegooi is nadat sy roeiplank omgeslaan het.

Volgens die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het die 69-jarige man dieselfde oggend om 10:00 op ʼn roeiplank die see ingevaar, maar vriende was bekommerd toe hy nie die middag teruggekeer het nie.

Die man was hipotermies teen die tyd wat hy op die rotse van ʼn strand aangetref is.

Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, sê die NSRI se Mykonos‑span is kort ná 13:00 ontbied om na die man te help soek.

“Ons reddingsvaartuig is na Paternoster geneem, terwyl ʼn NSRI-span en ʼn plaaslike lewensredder ʼn soektog aan die kuslyn van stapel gestuur het,” sê hy.

“Die span het gedurende hierdie tyd talle oproepe van inwoners ontvang wat gesê het dat die man moontlik na Tietiesbaai toe geroei het. Hy het egter nie ʼn selfoon byderhand gehad nie.”

ʼn Plan is beraam en vriende van die vermiste man het ingespring en saam na hom gesoek.

Om 14:30 het plaaslike inwoners van Paternoster op ʼn man afgekom wat op die rotse naby ʼn inham uitgespoel het.

Die NSRI-span en ʼn ambulans is na die toneel ontbied. Die pad was egter ontoeganklik vir ʼn ambulans en paramedici is met die NSRI se 4×4-reddingsvoertuig na die toneel geneem.

“Met paramedici se aankoms is vasgestel dat die man in ʼn ernstige toestand is en aan hipotermie ly,” sê Lambinon.

“Paramedici het die man behandel en hy is na die ambulans geneem.”

Dit het later aan die lig gekom dat sy roeiplank omgeslaan het en dat hy langer as ʼn uur in die water was voordat hy uitgespoel het. Hy was egter te swak om alarm te maak.

Teen Woensdagoggend is die NSRI in kennis gestel dat die man goed aansterk en reeds uit die hospitaal ontslaan is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Willem Hendrik ·

Die NSRI is n nie winsgewende organisasie wat met donasies doen wat ons swak regering nalaat om te doen. Dankie is nie genoeg vir die manne en vroue wat vrywilliglik help.

Feite ·

Ek stem saam met jou. Daarom gee ons elke maand n donasie vir die wonderlike werk wat hulle doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.