Man verdrink ná hy kind uit see red

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

’n Man wat ’n kind by Thompson-baai in Ballito, KwaZulu-Natal, gered het, het verdrink nadat golwe hom die see in meegesleur het.

Paul Herbst, woordvoerder van Medi Response-ambulansdiens, sê paramedici is Sondagmiddag na die baai ontbied nadat berigte van ’n moontlike verdrinking ontvang is.

“’n Gesin het op die rotse gestaan en foto’s neem toe golwe ’n kind van die rotse afgeslaan het,” sê Herbst.

“Die man het ingeduik en daarin geslaag om die kind na een van die gesinslede aan te gee. Die man is egter in die proses deur golwe meegesleur.

“Met reddingwerkers se aankoms op die toneel, het hulle ’n persoon in die see sien dryf. Swemmers is ingestuur en het die persoon na die strand gebring,” sê Herbst.

“Paramedici het die man probeer bybring, maar dit was onsuksesvol en die man is op die toneel dood verklaar.”

Dit is egter nie die enigste verdrinkingsvoorval wat die afgelope naweek in KwaZulu-Natal aangemeld is nie.

Paramedici van Netcare 911 het Sondag omstreeks 11:40 gereageer op ’n verdrinking by ’n onbeskermde strand aan die suide van die Wild Coast Sun Holiday Resort in Port Edward (Foto: Verskaf)

Paramedici van Netcare 911 het Sondag omstreeks 11:40 gereageer op ’n verdrinking by ’n onbeskermde strand aan die suide van die Wild Coast Sun Holiday Resort in Port Edward.

“Volgens inligting het ’n groep swemmers in die moeilikheid beland nadat golwe hulle die see ingetrek het,” sê Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911.

Die meeste van die swemmers kon met behulp van mense by die kampterrein terugkeer strand toe. Een van die swemmers, ’n 15-jarige seun, was egter nie so gelukkig nie. Hy is op ’n nabygeleë rotspunt gevind en is deur die Suidkus‑polisie se soek-en-reddingseenheid strand toe gebring.

“Paramedici het die seun geassesseer, maar hy het geen tekens van lewe getoon nie en is op die toneel dood verklaar.”

’n 12-jarige seun is deur lede van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) gered en aan Netcare 911 oorhandig.

Die pasiënt is geassesseer en daar is bevind dat hy in asemhalingsnood verkeer.

“Paramedici het die seun gestabiliseer en daarna vir verdere mediese behandeling na ’n nabygeleë hospitaal geneem.”

’n Dag tevore is ’n ma en haar 10-jarige dogter betyds uit die see gered toe hulle aan die Noordstrand in Durban geswem en in die moeilikheid beland het.

Netcare 911-paramedici is Saterdag omstreeks 09:40 na die toneel ontbied, sê Herbst.

“Lewensredders van eThekwini het gesien die ma en dogter is in die moeilikheid. Hulle het ingeduik en die ma en dogter gered.

“Met paramedici se aankoms op die strand het hulle die ma in ’n stabiele toestand aangetref. Sy het egter behandeling geweier. Die kind het seewater gesluk en het ernstige asemnood gehad. Sy is op die toneel gestabiliseer en daarna na ’n hospitaal vervoer.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.