Man verloor been ná doring in toon

Piet Faber van Hertzogville in die Vrystaat. (Foto: Verskaf)

’n Diabeet van Hertzogville in die Vrystaat leer nog om met slegs een been oor die weg te kom nadat hy verlede jaar in ’n doring getrap het wat uiteindelik daartoe gelei het dat dokters sy regterbeen moes amputeer.

Piet Faber (70) het vroeg verlede jaar in die doring getrap en dit het in sy groottoon ingesteek. Binne maande het sy toestand tot só ʼn mate agteruitgegaan dat hy vyf operasies moes ondergaan net om te probeer om sy toon, toe sy voet en later sy been te red.

Die operasies was tevergeefs, deels weens swak bloedsomloop, en sowat ʼn jaar gelede is Faber se been 10 cm onder die knie geamputeer.

Die wond het intussen herstel, maar hy onthou nog die ondraaglike pyn, die depressie en die hallusinasies weens die sterk pynmedikasie wat hy moes verduur.

“Dit was absoluut hel gewees om hom so agter uit te sien gaan,” vertel Faber se dogter, Emma Steyn. Steyn hoop nou om genoeg geld in te samel sodat haar pa ’n prostetiese been kan ontvang en weer die lewe vierkant in die oë kan kyk.

Volgens Steyn het haar pa weens sy diabetes lank reeds min gevoel onder sy voete. “Hy het dus aanvanklik nie eens besef dat hy in ’n doring getrap het nie.”

Haar ma, Ria, het later opgemerk dat iets nie pluis is met haar man se groottoon nie en dit tuis behandel.

Die toon het egter met verloop van tyd al slegter begin lyk en Faber is na ’n hospitaal in Kimberley waar die toon eers by die lid en toe later die hele toon verwyder is.

Piet Faber se regterbeen moes onder die knie geamputeer word. (Foto: Verskaf)

Faber is daarna na die Universitas-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas, waar nog ’n toon verwyder is. Sy toestand het steeds nie verbeter nie en die voet is by die hakskeen geamputeer. Die laaste uitweg was eindelik die amputasie van sy been tot onder die knie.

“Jy kan dit nie vir iemand anders beskryf nie. Jou hele lewe is deurmekaar daarna,” vertel Faber Maandag aan Maroela Media. “Dit was moeilik. Ons het maar net bly bid, glo en vertrou en Jesus het ons deurgedra.”

Hy gee toe dat die amputasie hom fisiek sowel as geestelik afgetakel het.

“As ek net weer op my perd kan klim…, ” sê hy nou oor die vooruitsig van ’n prostetiese been. Faber het diere wat op staatsgrond in die omgewing van Hertzogville wei.

Sy dogter en vrou glo ook dat ’n prostetiese been moontlik hoop kan bring.

“As hy net weer tussen sy diere kan loop, sal dit weer van hom die ou Piet maak,” vertel Steyn. “Hy het ’n boerehart.”

Ook Ria, Piet se vrou van byna 50 jaar, meen haar eggenoot sal weer sy ou self wees. “Hy is nou baie af. Hy sit maar. Dan oefen ons bietjie en dan sit ons maar weer.

“Dit sal vir my en vir hom baie beteken.”

Faber se gesin het ʼn skarefondsinsameling van stapel gestuur om te help om vir die prostese te betaal.

Die gesin bedank ook familie en vriende wat hulle tydens dié moeilike tyd bygestaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Samuel ·

Ek het groot begrip vir mnr. Faber. Bykans dieselfde pad geloop agv ‘n spinnekop byt. Sterkte, mnr. Faber.

Charl ·

Sterkte Piet, bly positief, jy sal nie val want ons Hemelse Vader dra jou.

Elinette ·

Niemand wat nie self aan diabetes en gepaardgaande neuropatie ly, weet waardeer so iemand deurgaan nie. Ek is weer aan die ander kant van die glyskaal – a.g.v. diabetes is my voetsole só sensitief dat ek deur die dak wil klim as ek net op iets kleins (bv. ‘n klein klippie) trap. Bo-op my voete het ek weer geen gevoel nie, wat soms daartoe lei dat ek my voete beseer, sonder om dit te voel. Ek het my kleintoontjie al GEBREEK, sonder om daarvan te weet. Sterkte aan mnr. Faber met die herstel proses – ek hoop u kom gou reg met ‘n prostese.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.