Man wat pap band ruil, sterf toe voertuig hom tref

Iemand was besig om die voertuig op die pad tussen Estcourt en Colenso in KZN te stoot nadat dit onklaar geraak het, toe ‘n vragmotor daarin vasgeploeg het. (Foto: ER24)

Minstens drie motoriste is die afgelope naweek dood en verskeie ander beseer nadat hulle teëspoed langs die pad gekry het.

In Gauteng het ʼn motoris op die R21 in die Centurion-omgewing Saterdagaand gesterf nadat hy vermoedelik stilgehou het om ʼn pap band om te ruil.

Kyle van Reenen, woordvoerder van Emer-G-Med, sê ʼn ander voertuig het die motoris in die omgewing van die Irene Village-winkelsentrum getref. Paramedici het hom op die toneel dood verklaar.

Op die N14, ook in die Centurion-omgewing, is nog ʼn persoon dood en vier ander beseer toe hul voertuig Saterdagaand onklaar geraak en in die middel van die hoofweg tot stilstand gekom het. ʼn Tweede motoris het stilgehou om te help en ʼn derde voertuig het ongelukkig daarna teen albei vasgery.

Paramedici het ʼn man op die toneel dood verklaar, terwyl die vier ander pasiënte gestabiliseer en na ʼn nabygeleë hospitaal geneem is, sê Van Reenen.

Tussen Colenso en Estcourt in die KwaZulu-Natalse Middelland is ʼn man ook dood en nog een ernstig beseer toe ʼn vragmotor hulle getref het terwyl hulle ʼn stukkende voertuig op die R74 tussen die twee dorpe gestoot het.

In Centurion is ‘n man dood nadat hy vermoedelik stilghou het om ‘n pap band te ruil en ‘n ander motoris hom raakgery het. (Foto: Emer-G-Med)

Ross Campbell, woordvoerder van ER24, sê paramedici was Sondag kort ná 02:00 saam met polisiebeamptes en insleepdienste op die toneel.

“Die oorledene is sowat ʼn meter langs die pad aangetref. Ongelukkig kon niks meer gedoen word om hom te help nie en hy is dood verklaar.”

ʼn Tweede man is langs die vragmotor aangetref en het ernstige beserings opgedoen. Volgens Campbell is hy na die Ladysmith-hospitaal geneem.

Die bestuurder van die voertuig het glo gevlug en is nie beseer nie.

Die vragmotorbestuurder was ook op die toneel en het geen beserings opgedoen nie.

Die polisie ondersoek die ongeluk.

  • Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is – RED

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.