Mandela-boek onttrek ná omstredenheid

Mandela’s last years (Foto: Verskaf)

Die Suid-Afrikaanse uitgewer Penguin Random House het Maandagmiddag aangekondig dat hy die kontroversiële boek Mandela’s Last Years deur dr. Vejay Ramlakan uit die handel gaan onttrek.

Surita Joubert, ʼn publisiteitsbestuurder van die uitgewer, het in ʼn verklaring gesê geen verdere kopieë van die boek sal meer gedruk of uitgegee word nie “uit respek vir Mandela se familie”.

Dit volg ná Graça Machel, weduwee van die ontslape oudpresident Nelson Mandela, vroeër verlede week gedreig het om die uitgewer en skrywer voor die hof te daag oor die boek.

Machel het gesê sy is besig om regsadvies in te win aangesien sy van mening is die boek skend die vertroulikheid wat daar tussen ’n dokter en sy of haar pasiënt is.

Volgens die oorspronklike verklaring van die uitgewer, Penguin Random House, is dié boek geskryf “met respek” en met “die goedkeuring van die familielede”.

“Ons het die boek aanvaar nadat die skrywer, Vejay Ramlakan, Penguin Random House South Africa verseker het dat hy goedkeuring van die familie gekry het. Die familie se verteenwoordiger is met ʼn kopie van die boek voorsien.

“Die boek was veronderstel om Mandela se waagmoed en krag tot met die einde van sy lewe uit te beeld, en dit was nie veronderstel om minagtend te wees nie. Ons onttrek egter die boek uit die handel gegewe die verklarings van familielede.”

Maroela Media het vroeër berig Mandela’s Last Years werp lig op kwessies van sy laaste jare, soos sy gesondheid en gebeure gedurende die maande voor sy dood. Ramlakan, wat aan die hoof van Mandela se mediese span gestaan het, maak ook talle onthullings in die boek – soos onder meer dat ʼn militêre ambulans wat Mandela na die Mediclinic Hart-hospitaal in Pretoria vervoer het, aan die brand geslaan het.

In die boek praat Ramlakan ook oor die geliefde oudpresident se laaste oomblikke in sy kamer saam met nabye familie, die oudstes van die stam uit die Oos-Kaap en ook Graça Machel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Alida ·

Die skrywer wou net geld maak. Los dit nou en laat die man in vrede rus. Ek dink die wereld het ook nou genoeg van hom gehad en dis tyd om aan te beweeg. Ons verloor almal geliefdes een of ander tyd. Niks gaan hom terugbring nie.

Darius ·

Wens ek kan my hand op die boek kry. Sal miljoene werd wees oor tien jaar.

Bekommerd ·

Ongeag oor wie die boek gaan; dis hartseer om te dink jy kan NIEMAND meer vertrou nie. Nie eers jou dokter nie. Geld praat net te hard. Daarom dat familie en vriende mekaar so maklik “verraai”. Ek weet nie van mense wat graag hul laaste oomblikke (eendag) versprei wil he nie.

Ben Prinsloo ·

Johnny walker as jy so iets kry laat my asb weet, ek sal ook baie belangstel in so n boek.

Gert ·

Ek het gedink dat die uitgewer die skrywer se toetemming van die Mandela – familie sou wou sien !!! Maar nee, die pes van mammon het blindelings oorgeneem!! Hulle ontkennings dra been gewig nie !! Skaam julle , die uitgewers, Penguin !!

Clyvia ·

Penguin Random House South Africa moet tog sekerlik vanaf hulle kant seker maak dat die familie goedkeuring gegee het en nie net die woord aanvaar vanaf Vejay Ramlakan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.