Mans in hof oor mensehandel in Mpumalanga

Cornelis Johannes Uys, Cornelis Johannes Albertus Uys, Carlos Bernardo Guambe en Gabriel Bernardo Guambe in die Belfast-landdroshof in Mpumalanga (Foto verskaf deur die Valke)

ʼn Pa en seun, Cornelis Johannes Uys (60) en Cornelis Johannes Albertus Uys (23) bly in aanhouding ná hulle Maandag in die Belfast-landdroshof in Mpumalanga verskyn het op aanklag van mensehandel.

Die twee mans is Sondag deur die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) in hegtenis geneem.

“Hul inhegtenisneming volg ná nog twee verdagtes, Carlos Bernardo Guambe (34) en Gabriel Bernardo Guambe (32) op 24 Junie 2022 in hegtenis geneem is in verband met mensehandel,” sê kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke.

Maroela Media het vroeër berig altesaam 39 slagoffers, insluitend sewe vroue, nege kinders jonger as vyf en 23 mans ouer as 18, is van ʼn plaas in Dullstroom gered. Dit was ʼn gesamentlike poging deur Nelspruit se eenheid wat ernstige georganiseerde misdaad ondersoek, die blitspatrollie en die departemente van arbeid en binnelandse sake.

Volgens inligting was die modus operandi dat slagoffers met ʼn taxi van Mosambiek na Suid-Afrika gebring word vir werksgeleenthede.

Die slagoffers is van Mosambiek na die grens gebring waar hulle uit die taxi moes klim en die grens onwettig deur die rivier moes oorsteek na Suid-Afrika. Hulle is daarna met ʼn taxi na Lydenburg geneem.

Die seun van die plaaseienaar en een mensehandelaar het die taxi-bestuurder ontmoet en vir hom geld gegee in ruil vir die slagoffers wat dan vir arbeid na die plaas geneem is.

Verdere ondersoek het onthul dat die slagoffers en twee van die verdagtes onwettig in die land is.

Die slagoffers is na ʼn plek van veiligheid in Witbank geneem.

Die Guambe-broers staan tereg op aanklag van mensehandel en bykomende aanklagte van oortreding van die Wet op Onwettige Immigrasie. Hulle het Maandag saam met die twee Uys-mans in die hof verskyn en bly ook in aanhouding.

Die vier beskuldigdes moet op 11 Julie weer in die hof verskyn vir hul formele aansoek om borgtog.

Die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Christine ·

Ag genade, kan die boere nie asb wettig arbeiders kry nie. Kyk waar bring dit hom nou om onwettige immigrante aan te stel! Nou is dit mensehandel. Die ouens gaan bitter lank sit. Geen genade.

Jack ·

Vraag by my is of hulle ontvoer en gedwing is om op die plaas te kom bly. Hulle is wel onwettig maar mensehandel beteken seker koop en verkoop.

Wat op dees Aarde ·

Daar het geld gewissel volgens die artikel. Ons sal maar die saak moet fyn dophou om agter die kap van die byl te kom.

Vexed ·

Daar is mensehandel wat by die boordeel langs my huis gebeur. Niemand stel belang nie. Ek is verby die punt van omgee.

Swerwer ·

Is die 7 vrouens en die 23 mans ouer as 18 almal onder 21 dat hul minderjarig is. ? Behoort die 9 kinders nie aan die 7 vroue nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.