Mapisa-Nqakula nie nou in hegtenis geneem   

Nosiviwe Mapisa-Nqakula (Foto: @ParliamentofRSA/X)

Uitspraak is tot volgende week voorbehou in Nosiviwe Mapisa-Nqakula, speaker van die Nasionale Vergadering (NV), se dringende aansoek om haar inhegtenisneming te verhoed.

Regter Sulet Potterill sal Dinsdag uitspraak lewer en is daar ooreengekom dat Mapisa-Nqakula nie voor dan in hegtenis geneem sal word nie.

Adv. Reg Willis SC, vir Mapisa-Nqakula, het aangevoer dat sy kliënt die aansoek gebring het omdat sy nie ʼn onderneming van die staat kon kry dat sy nie in hegtenis geneem sal word totdat haar verkose regverteenwoordiger, Stephen May, beskikbaar is nie. Hy is glo nog by ʼn ander saak betrokke en het volgens Willis reeds aan die staat die versekering gegee dat Mapisa-Nqakula op 3 April by die Lyttelton-polisiestasie sal aanmeld.

May het intussen in ʼn beantwoordende verklaring die staat daarvan beskuldig dat hy inligting aan die media bekend maak maar dit van Mapisa-Nqakula weerhou. Die speaker eis ook volledige bekendmaking van alle inligting rakende haar saak, insluitend die volledige dossier, om haar verdediging te kan voorberei.

Mapisa-Nqakula ontken die bewerings teen haar en meen die staat se saak teen haar is swak.

Makhosi Gwala SC, vir die staat, het gesê dit is ongehoord dat afskrifte van dossiere geëis kan word. Hy het gesê Mapisa-Nqakula kan nie voorskryf wanneer sy by die polisiestasie gaan aanmeld nie en dat as dit in haar geval toegelaat word, miljoene Suid-Afrikaners dieselfde sal verwag. Gwala het bevraagteken hoekom Mapisa-Nqakula anders behandel moet word.

Die speaker word daarvan beskuldig dat sy gedurende haar tyd as minister van verdediging en militêre veterane omkoopgeld van R2,3 miljoen van ʼn diensverskaffer van die weermag aanvaar het.

Mapisa-Nqakula het verlede week besluit om met onmiddellike inwerkingtreding op spesiale verlof te gaan te midde van die bewerings van korrupsie teen haar.

ʼn Beëdigde verklaring wat deur adv. Bheki Manyathi, adjunkdirekteur van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se ondersoekdirektoraat, ingedien is, het intussen meer lig gewerp op die beweerde betalings wat aan Mapisa-Nqakula gemaak is.

Hiervolgens is R300 000 en R400 000 in Desember 2016 gemaak; R200 000 in Julie 2017; R150 000 in November 2017; R250 000 in Augustus 2018; drie betalings van R150 000 in September 2018; R300 000 en ʼn pruik in Februarie 2019; R400 000 in April 2019 en R100 000 in Julie 2019. Mapisa-Nqakula het glo ook R2 miljoen in September 2018 aangevra maar is dit nie betaal nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Marous ·

Absolute twak . Sy is ‘n werknemer van die publiek en verdien geen spesiale behandeling nie .

Kokerboom ·

Dit was te wagte en nie nuus
Die kaders is onaantasbaar
Skandelik

Delia ·

Kan ons gewone burgers ook so onderhandel oor ons inhegtenisname ens. Belaglik

Mike ·

@ Della – vra ek ook..Ramaphosa (as jy iets uit hom uitkry – dis sy speaker) gaan seker weer se…”There are processes and procedures that need to be followed, we cannot interfere in such”.

ES ·

Maar ons het mos geweet niks gaan aan haar gedoen word nie – sy is immers ‘n kader.

Gaitsigubib ·

Wat is nou fout met bietjie sakgeld? As die baas “onverklaadre” geld in sy bank (sy sofa) bere, dan kan die ander seker ook so bietjie geld vir die oudag bere? Dis mos net regverdig?

Roek ·

So indien ek n vemoede het dat ek gearresteer gaan word kan ek die hof nader om die arrestasie te vertraag of uit te stel tot waneer dit my pas , belaglik, die met geld kan dit doen en is hierdie die belaglikste saak wat ek nog geluister het , ons regs stelsel is weg soos in helemal gone !

Wondermaarnet ·

En as Stephen May eers oor 5 jaar beskikbaar is, dan gaan die saak 5 jaar lank lê en die dame kry steeds salaris en alle voordele.

Samuel ·

Regstelling. As gevolg van haar doen en late, is daar reeds onberekenbare skade aan die parlementêre instelling gedoen.

Bolandse Nooi ·

Ooooooohhhhhhhhhhhhh ……….. so, as ek nou die een of ander misdaad (na bewering) gepleeg het, mag ek ook my regsverteenwoordiger vra om te onderhandel met die polisie of Valke of wie-ookal, om eers “toestemming” te moet gee voor ek in hegtenis geneem word, djou Honner?

Leeubekkie ·

Her arrogance leaves me speechless!
Wie dink sy is sy om eise te stel en nie in hegtenis geneem te word nie?

Stofdonkie ·

As mens die betalings optel kom dit uit op R2,25miljoen oor ‘n tydperk van 32 maande. Dit is dus ‘n inkomste van R70,312-50 per maand gewees. Nie te sleg vir ‘n ekstra inkomste so bo-op haar salaris wat sy verdien het as minister nie. Neem in ag al die voordele wat sy ook ontvang het as minister soos byv. gratis luukse motors en verblyf dan het sy eintlik baie goed gedoen finansiëel. Sy moet sommer ook aangekla word van belasting bedrog, want sy het heel waarskynlik ook nie belasting betaal op die addisionele inkomste nie.

Casper ·

Sy het haar tot die hof gewend om haar arrestasie te voorkom maar sy gaan op 3 April by die Lyttelton polisie aankeld.Is sy dan al aangekla of gaan sy dan formeel aangekla word want daar is seker al ‘n saakdossier ge-open.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.