Mapisa-Nqakula se berekening vir Zim-vlug verwerp

Die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula. (Argieffoto: GCIS)

Die DA het die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, se berekening van die bedrag wat die ANC moet opdok vir sy saamrygeleentheid na Zimbabwe op ʼn lugmagstraler, verwerp.

Die minister het bereken dat die ANC altesaam R105 545,46 moet betaal vir die onkoste wat die lugmag aangegaan het om hulle saam na die buurland te karwei.

Pres. Cyril Ramaphosa het vandeesweek beveel dat Mapisa-Nqakula die oorspronklike verslag oor die vlug, asook die aanvullende verslag daaroor wat sy aan hom moes voorlê, ook aan die publiek beskikbaar stel.

Altesaam 10 passasiers, die minister van verdediging ingesluit, was aan boord van die vliegtuig vir die vlug van 2,7 uur. Die gemiddelde koste per uur om dié model vliegtuig te bedryf beloop sowat R62 000. Die gemiddelde uurlikse brandstofverbruik vir albei enjins is 1 500 ℓ.

Die minister het die direkte koste vir ʼn vlug van 2,7 uur dus só bereken:

R62 000 x 2,7 = R167 400

1 500 ℓ x 16 (rand per liter) = R24 000 per vlieguur

R24 000 x 2,7 = R64 800

Totaal: R167 000 + R64 800 = R232 200

Hiervan moet die ANC altesaam R105 545,46 vir sy afvaardiging betaal.

Die faktuur aan die ANC vir die betaling van dié bedrag word ingesluit in Mapisa-Nqakula se aanvullende verklaring.

Kobus Marais, die DA se woordvoerder oor verdediging, sê egter die bedrag is nie naastenby genoeg vir die onbeskaamde misbruik van mag en skaars staatshulpbronne nie. Marais sê die DA het twee onafhanklike maatskappye gevra na die koste van ʼn huurvlug van Pretoria of Johannesburg na Harare en dat die bedrag – slegs vir die vlug – naastenby R260 000 beloop. Dit sluit nie landingskoste, parkeergeld of spyseniering aan boord van die vliegtuig in nie. Marais sê die bedrag is dus veel hoër.

“Min. Mapisa-Nqakula het die algehele koste hopeloos onderverreken en dit gegrond op irrelevante berekenings. Sy het ook die koste vir die ANC bereken op grond van die getal insittendes. Dit maak geen sin nie, want sonder die ANC aan boord sou daar in die eerste plek nie ʼn behoefte gewees het om ʼn enorme lugmagstraler te gebruik nie.”

Marais sê die minister gebruik gewoonlik die veel kleiner negesitplekstraler vir staatsbesoeke aan Zimbabwe, maar dat die veel groter 18-sitplek-straler in dié geval gebruik is spesifiek sodat die ANC-afvaardiging geakkommodeer kan word.

In haar aanvullende verklaring oor die vlug sê die minister gewoonlik word die Falcon 900 – waarmee in hierdie geval ook gevlieg is – of ʼn vliegtuig van soortgelyke grootte vir internasionale reise gebruik. Die Falcon 50 – die kleiner straler – word normaalweg net vir binnelandse vlugte gebruik.

“Dus sou ek die Falcon 900 of ʼn huurvliegtuig van ʼn soortgelyke grootte gebruik het, gegewe die feit dat kommersiële vlugte nog nie beskikbaar is nie – en dit sou gedoen word of bykomende ANC-NUK-lede by my aangesluit het of nie,” lui Mapisa-Nqakula se verduideliking.

In haar aanvullende verklaring sluit Mapisa-Nqakula ook ʼn brief van die departement van gesondheid in waarin toestemming gegee word dat diegene aan boord in self-isolasie mag gaan nadat hulle van Zimbabwe terugkeer.

Die minister sluit ook ʼn brief van die presidensie in waarin toestemming gegee word vir haar reis na Zimbabwe.

Die VF Plus, die burgerregtegroep AfriForum en die African Transformation Movement (ATM) het ook klagte oor die gebruik van die straler by die Openbare Beskermer (OB) ingedien.

Adv. Busisiwe Mkhwebane sê nou in ʼn brief aan Mapisa-Nqakula – wat ook in die aanvullende verslag ingesluit is – dat sy gaan ondersoek instel na of die vergadering met die minister se Zimbabwiese eweknie wel plaasgevind het en wat die agenda was.

Die OB gaan ook vasstel of die minister die nodige toestemming van die president vir die reis verkry het en of die regte prosesse daarvoor gevolg is.

Mkhwebane vra Mapisa-Nqakula om alle tersaaklike dokumente oor die reis na Harare, waaronder alle korrespondensie tussen haar kantoor en dié van haar eweknie in Zimbabwe, te verskaf waarin die logistieke reëlings vir die ontmoeting en die doel van die vergadering bespreek word.

Mapisa-Nqakula moet ook ʼn geskrewe eedsverklaring voorsien oor waar presies sy haar bevind het nadat sy op 9 September in Zimbabwe geland het, tot sy weer aan boord van die vliegtuig terug na Suid-Afrika gegaan het.

Ramaphosa het die minister reeds formeel tereg gewys. Mapisa-Nqakula se salaris word ook vir drie maande, vanaf 1 November 2020, aan die regering se Solidarity Fund oorbetaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Pieter ·

Ek sou lag, maar ons weet anc kan geen wiskunde doen nie. (Kyk maar vir stortkop). Nie eens te praat van die eff nie- HAHAHAH!!

Anoniem ·

Hier is sowaar ‘n ANC en EFF (af)duimryer op die forum Pieter.

Persheks Adri ·

As jy kan tel kan jy presteer ne! Die hele lot wat saam gevlieg het moet betaal, stappe teen hulle vir lockdown reëls wat nie gehoorsaam was nie plus plus plus. Haar 3 maande salaris is nie genoeg nie! Laat hulle sommer gaan sit ook dis tyd dat ANC tsek soos in gou

donsie ·

SY GAAN GEVRA WORD OM HAAR SALARIS OOR TE BETAAL???
Wie se sy gaan dit doen??

Johann ·

Whahahahaaaaaa…..ten minste weet ons sys n ZUNAIKIE. Maak nes hy somme. As dit tot haar en die ANC se voordeel is is die somme ander as wat die somme is as dit to hulle nadeeel is. En as ek reg is is een van die goedgunstige betalers aan die ANC gearesteer? So ACE en sy comraded gaan maar self moet betaal? JA SHURE?

Seveti one and hundred and nine twenti zimmmmmm dollers.

Belinda ·

Waar is tog ‘n lekker lag gesiggie dat mens kan lag vir hierdie goeie kommentaar

koos10 ·

Die vliegtuig is wonderlik. Kan self vlieg, land, parkeer, vol maak, skoon maak en sommer alles self doen, want volgens die minister is geen mens betaal om dit te doen nie.
As hulle berekenings so doen, verstaan ek nou als wat in ons land gebeur baie beter. SAA en Eskom se biljoene rande is seker ook so bereken!

Objektief ·

Miskien moet daar gekyk word of hasr vergadering voor of na die ANC se besluit om te gaan kuier bevestig is. En kyk ook sommer die agenda en die notules

JohanR ·

Hoekom moet ‘n ANC in enige straler ry, of self besit vir eie gebruik en die belastingbetaler moet betaal. Kan hulle nie ‘n vliegtuig kaartjie koop soos ek en jy en vlietuig klim soos ek en jy? Dit kom nou as mense dink “in the scheme of things” is hulle belangrik! Ek sal die een nie eers glo as sy my kleingeld uit ‘n R100 nooit gee nie. Gaan terug in haar geskiedenis en sien hoeveel sy al gelieg het.

Dries ·

Minister van verdediging ??? Kan jy glo. N hele weermag onder haar. Ongelooflik.

Sandra ·

Mnr Ramaphosa, hierdie berig waar sy oor die kole gehaal is, en nog vir drie maande salarisloos is oor haar misdryf, en die 2 mense wat gearresteer is vir bedrog in die ANC, jy is on the roll met jou besluite. Miskien het jy ook nou genoeg gehad van die klomp skelms wat hulle sakke volmaak uit die staat se koffers, en Suid Afrikaners se geld. Good for you.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.