Marius Weyers se vrou sterf

Marius en Evette Weyers (Foto: argief/Facebook/Evette Weyers)

Evette Weyers, bekende kunstenaar en eggenote van Marius Weyers, het in die ouderdom van 77 gesterf.

Sy is in 2019 met Alzheimer se siekte gediagnoseer, en is sedertdien deur Marius by hul huis in Rooiels in die Wes-Kaap versorg. Sy is vandag net ná tweeuur vreedsaam, met Marius aan haar sy, oorlede.

Dr. Chris Vorster, jarelange noue vriend van Marius en Evette, het die nuus vroeër vandag aan Maroela Media bevestig.

“Sy was sonder twyfel die belangrikste mens in sy lewe van begin tot einde. Hulle was vir dekades onafskeidbaar,” het Chris aan Maroela Media vertel.

Sy los ʼn geweldige leemte in die lewens van dié wat sy agterlaat, het Sandra Prinsloo, jarelange vriendin van Marius en Evette, vanmiddag aan Maroela Media vertel.

Evette Weyers. (Foto: Chris Vorster/verskaf)

“Sy was ʼn ongelooflike unieke mens. Ek het nog nooit iemand ontmoet wat so ʼn interessante kop gehad het nie. Sy was positief en nooit bang vir die lewe nie,” onthou Sandra haar vriendin.

Sandra het in haar twintigerjare met die Weyers-egpaar bevriend geraak, en koester talle herinneringe van haar tyd saam met Evette op rolprentstelle. Sy onthou die laaste rolprent waarin sy en Marius sy aan sy gespeel het, waar sy tydens die verfilmingtydperk ure saam met Evette kon deurbring.

Hulle het ʼn liefde vir diere en die natuur gedeel, en kon in dié tydperk gereeld saam gaan stap.

“Sy was ʼn wonderlike vriendin om mee te gesels en het ʼn kinderlike opgewondenheid oor die natuur gehad – ʼn absolute natuurmens.”

“Maar sy was ook ʼn wonderlike kunstenaar wat pragtige beelde gemaak het; geen beeld is sonder ʼn poëtiese aanslag gemaak nie,” het Sandra bewoë vertel.

“Daar was ʼn gedig vir elke beeld, ʼn boodskap daarin vasgevang. Sy het ook altyd die mooiste dinge gesê.”

Sandra het Sondag by Marius en Evette gaan kuier, ʼn dag waarvoor Sandra vandag baie dankbaar is.

“Sy en Marius kon so lekker lag en mekaar se siele uittrek. Haar liefde vir Marius, hul liefde vir mekaar, was wonderlik om te aanskou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Wit Leeu ·

Innige simpatie aan Marius en familie. Die Here sal voorsien in julle pyn !

Kokerboom ·

Baie sterkte aan jou Marius. GOD het gegee en geneem Mag sy in vrede rus

Trotse Boervrou ·

Pragtige twee mense. So jammer om dit te verneem. Mag God Marius en al hul geliefdes styf vashou in hierdie hartseer hoofstuk van hul lewe.

Skappie ·

Sterkte aan jou Marius. Mag onse Liewe Heer julle almal styf in Sy arms vashou en julle deur hierdie moeilike tyd dra wat nou vir julle voorle.

Lillian ·

Dit is bitter hartseer nuus. Sterkte Marius vir die pad vorentoe. Mag jy berusting vind.

Cassie Carstens ·

Ek het Marius Weyers in 1994 in Volkskas Bank in Villerrsdorp ontmoet. Hy was vir my ‘n uitsonderlike mens in al sy optredes in SA. Evette was ‘n puik kunstenaar wat puik werk gelewer het. My innige meegevoel aan Marius in hierdie droewige tyd. Mag hy Genade ontvang om rustig van haar afskeid te neem en met God se genade om met sy lewe te kan aangaan. RIV Evette.

Phil ·

Innige simpatie, Marius en familie. Mag die Here julle vertroos en Sy vrede gee.

Chris ·

Ons innige simpatie met Evette se heengaan.Ons bid Sy vertroosting vir jou en familie toe. Van Chris en Christa Fick Kleinmond.

Kobus ·

Mag haar geliefdes vertroosting vind in hul ryk herinneringe aan so ‘n uitsonderlike mens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.