Mashatile: ‘Ek het niks verkeerd gedoen’

Paul Mashatile (Foto: GCIS)

Adj.pres. Paul Mashatile erken dat sy paaie al met vermeende staatskapers gekruis het. Hy ontken egter dat hy gereeld by dié sakemanne se herehuise tuisgegaan óf hom aan wangedrag skuldig gemaak het.

“Die adjunkpresident het nog nooit enige openbaresektor- of staatskontrak aan die individue en maatskappye wat in News24 se berig genoem word, toegeken, beïnvloed of op enige manier tot stand laat kom nie.

“Die adjunkpresident het ook nie eienaarskap of permanente gebruik van enige eiendomme wat deur hierdie individue en maatskappye gekoop is nie. Die adjunkpresident sal enigiemand uitdaag om die teendeel te bewys,” het Mashatile se kantoor Woensdag in reaksie op dáárdie onthullende mediaberig gesê.

News24 het Maandag berig dat die adjunkpresident glo ʼn luukse lewenstyl handhaaf weens sy bande met sakemanne wat voordeel trek uit staatskontrakte.

Luidens die berig het Mashatile tot onlangs gereeld tuisgegaan in ʼn luukse woning van Edwin Sodi, wat tans teregstaan op aanklagte van korrupsie en bedrog saam met Ace Magashule in verband met die Vrystaatse asbestendersaak van R255 miljoen.

Mashatile se kantoor sê egter nou dié berig bevat verskeie “potensieel skadelike en ongegronde bewerings”.

Die adjunkminister gee toe dat sy paaie as openbare verteenwoordiger al vantevore gekruis het met die “individue” wat in die berig genoem is.

“Natuurlik het sommige kontakpersone vanuit daardie lang tydperk gaandeweg noue persoonlike medewerkers geword. Daar is egter niks verkeerd of ongewoon hieraan nie en die poging om ʼn skandaal van sulke verbintenisse te maak is ʼn jammerte,” sê die kantoor van Mashatile.

Volgens Mashatile het News24 boonop versuim om enige werklike bewyse van wangedrag te lewer.

Die adjunkpresident sê die nuusnetwerk het gekies om eerder op “insinuasies, bewerings en skuld deur assosiasie” staat te maak.

“Dit is ʼn betreurenswaardige benadering van joernalistiek en dit het die potensiaal om die saak van aanspreeklikheid in die openbare lewe te belemmer eerder as om dit aan te help.”

Mashatile se kantoor sê een van die mees betreurenswaardige bewerings in die berig is die  ongegronde aantyging dat die adjunkpresident “hard agter die skerms werk om tot die amp van president te vorder”, vermoedelik op die een of ander onderduimse manier.

“Dit word ten sterkste ontken.

“Die adjunkpresident wil graag die nasie daarvan verseker dat hy verbind is tot sy ampseed en die beginsels van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika.

“Die adjunkpresident wil ook graag sy verbintenis tot die bekamping van korrupsie en die bou van ʼn etiese en bevoegde ontwikkelingstaat herhaal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Chris dupreez ·

Niemand van julle het iets verkeerd gedoen nie, want in julle oë is die grootste bedrog en korrupsie nie verkeerd nie.

Peter ·

Ok, ons glo jou comrade – hear no evil, see no evil and do no evil, pfft

ES ·

Want watter staatsamptenaar gaan nou erken hy was betrokke by staatskaping? Lag ek nou te lekker.

Miena ·

Dit was nie ek nie… Ek het nie… Ek weet nie waarvan jy praat nie… Wat het ek verkeerd gedoen?
Die mees algemeenste en gebruikte kommentaar en vrae…
Ek se maar net!!

Yvonne ·

Natuurlik is jy nie skuldig nie….sal mos nooooooit so iets doen nie….shamepies vir hom

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.