Mashatile se beeldpoetser geskors

Paul Mashatile (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Die kantoor van die adjunkpresident het Woensdag bekend gemaak dat hy Vukani Mde, Paul Mashatile se woordvoerder, met onmiddellike inwerkingtreding skors.

Sunday World het die naweek berig ʼn senior vrouepersoneellid in die adjunkpresident se kantoor – wat regstreeks aan Mde rapporteer – het in Augustus ʼn klagte ingedien oor ongevraagde seksuele toenadering wat Mde glo teenoor haar gemaak het. Luidens die berig het Mashatile en sy stafhoof, Mduduzi Mbada, glo versuim om enige daadwerklike stappe daaroor te doen, tot ʼn onafhanklike ondersoeker teen die einde van verlede jaar daarvoor aangewys is.

Volgens die Sondagkoerant se bronne het die vermeende slagoffer ʼn omvattende verklaring gegee en die ondersoeker ontmoet, terwyl “Mde met een verskoning ná die ander geweier het om ʼn onderhoud met die ondersoeker te doen”.

Die ondersoeker het op 7 Desember ʼn verslag ingedien wat prima facie-bewyse van seksuele teistering bevat en het aanbeveel dat Mde dadelik geskors en aan ʼn tugverhoor onderwerp word.

Mbada het Woensdag gesê Mde het reeds aangedui dat hy sy volle samewerking met die ondersoek en verwante prosesse sal gee.

“Die besluit om mnr. Mde te skors is ook om te verseker dat die vermeende slagoffer tydens die verloop van die proses beskerm voel.”

Itumeleng Mafatshe, direkteur van inhoudsontwikkeling en toesprake, sal intussen as hoofdirekteur van die kommunikasiedepartement waarneem. Keith Khoza, Mashatile se politieke raadgewer, sal as die adjunkpresident se woordvoerder waarneem.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kokerboom ·

Oeps ekt gedink Mashatile is geskors!!!Gelukkig vir hom is hy onaantasbaar

domheks ·

Geskors met volle betaling? Jy betaal mos nie ons, die belastingbetalers byt die spit af.

Jacobus ·

Kan iemand vir my se hoeveel kantoor personeel en raadgewers elke president het wat deur die belastingbetaler onderhou word.

skurweberg ·

Hulle weet Baie goed hoe om rekords te illimineer en te vernietig. Of dit nou snippermasjiene is of afdankings, Spore sal toe gevee word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.