Massareddingspoging toe vloedwater motors meesleur

Lede van die gemeenskap gryp in nadat twee voertuie deur water meegesleur is. (Foto: Verskaf)

Verskeie nooddienste, gemeenskappolisiëringsforums (GPF) en lede van die gemeenskap het Maandag ingespring en planne beraam om agt mense uit vloedwater te red toe dié gedurende Maandag se kitsoorstromings naby Hammanskraal in die moeilikheid beland het.

ʼn Vrou en ses werkers is Maandagmiddag in haar motor op die Wallmansthal-grondpad deur vloedwater meegesleur toe die Pienaarsrivier oorstroom het. Irene Swanepoel en haar werkers het inderhaas op die motor se dak geklim en om lewe en dood vasgeklou. In die proses is die bestuurder van ʼn ander bakkie, Neels Ewenwel, ook meegesleur. Die bakkie is stroom-af meegesleur en Ewenwel kon in die doodsnikke daarin slaag om uit die motor te kom en aan ʼn boom vas te klou.

Dié mense is twee en ʼn half ure later met behulp van toue uit die water gebring.

Nic Arnold, AfriForum-hoof van strukture en veiligheid, vertel aan Maroela Media ʼn boodskap is oor die Kilo Delta-beheergroep versprei kort nadat die motors meegesleur is. Hulp het van alle kante ingestroom, vertel hy.

Nooddienste en omstanders op die toneel waar motors in die Pienaarsrivier beland het. (Foto: Verskaf)

Kameeldrift se GPF en trauma-eenheid, Sinoville-GPF, Kilo Delta-beheer, AfriForum, die polisie se watervleuel, polisiereserviste, die plaaslike brandweer en vrywilligers het inderhaas hul weg deur dié verspoelde grondpad gemaak om die mense te hulp te snel.

Volgens Arnold was die watermassa diep en sowat 200 m breed , wat dit baie moeilik gemaak het om by die gestrandes uit te kom. “Die groot moeilikheid was om planne te beraam om by die mense uit te kom. Ons het eers gedink om helikopters van die lugmag te kry om te kom help, maar dit sou te lank vat. Ons het nuwe moed gekry toe ons toue aan mekaar kon vasbind.”

Arnold verduidelik dat daar eindelik besluit is om toue oor die water te span. Die toue is aan voertuie weerskante van die water vasgemaak en lede van die gemeenskap het met dié toue tot in die middel van die water geloop, waar hulle mekaar ontmoet en die toue aan mekaar vasbind het.

Dit het egter herhaaldelike probeerslae geverg om dié toue bymekaar te kry, aangesien die stroom so sterk was. Almal op die toneel het intussen mensekettings gevorm en hulpmiddele só na die mense aan die voorpunt gestuur.

‘n Deurdrenkte Rudi Oosthuizen en Gysbert Kruger wat gehelp het om die insittendes te red (Foto: Verskaf)

Die 23-jarige Gysbert Kruger, ’n meganiese ingenieurstudent aan die Universiteit van Pretoria, was saam met sy vriendin op die toneel. Hy en nog ’n man, Rudi Oosthuizen, het ingestem om vanaf die een kant te stap. Die ander kant moes egter  noodgedwonge’n tou gooi sodat die stroom hulle nie meesleur nie.

Ná ’n gespook kon die tou eindelik styf getrek word waarna nóg ’n stuk tou aan die ankertou vasgemaak is om só die mense uit te help.

Volgens Arnold was die insittendes van die voertuie teen dié tyd verskriklik getraumatiseer. “Daardie mense was só moeg en in skok. Van hulle kon self loop, maar ander moes ons uit die water dra,” vertel hy.

’n Vrywilliger het Ewenwel met ’n waterponie uit die boom gered, aangesien daar geen manier was om die tou by hom uit te kry nie.

Kruger vertel dat hy en sy vriendin steeds geskok is ná die reddingspoging. “Dit is nie iets wat jy sonder genade oorleef nie,” vertel hy.

Arnold sê hy het eers later besef dat hulle ten spyte van die donker nag heeltyd kon sien soos hulle die mense uit die water gehelp het. “Ons het nie dadelik besef dat daar mense is wat intussen sproeiligte en kragopwekkers aangedra en gekoppel het sodat ons die heeltyd lig gehad het om in te werk nie. Almal het ’n enorme poging aangewend.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

koos ·

Dis hoe ek Pretorianers ken, stuit vir niks om ander te help. Dankie julle!!!
Nou hoop ek ook net dat die burgelikes wat hulle lewens in gevaar gestel het, die nodige erkenning sal kry van die plaaslike, provinsiale en nasionale regeerders.
Ministers gaan mos na Mamelodi om te gaan “help” na die vloede, so dit sal net reg wees as die helde ook vereer word (of pas dit nou nie in die regereing se kraal nie?).

Maria ·

Woow julle is dapper met groot harte trane loop somer sjoe dankie julle is n ster. Baie baie dankie almal julle is geseen en n voorbeeld Wens wereld kon sien wat julle gedoen het het nie woorde nie

Estelle ·

Maria, ek lees dit nou, en nou loop my trane. Trane vir die verlies wat soveel mense nou ervaar en tog trane van dankbaarheid teenoor elke helper.

Karin ·

Gysbert & Rudi ….julle was gestuur om daardie mense te help. Pragtige daad, terwyl julle self ook jul lewens op die spel geplaas het. Ek weet darem nie – hoe kan jy ‘n pad oorsteek waar die water in vloed is? Ek meen……jy weet mos nie watse gate en goete in die pad is nie en of jou voertuig nie dalk meegesleur sal word nie en boonop ander se lewens ook in gevaar stel nie !! Dis iets wat ek nou werklik nie verstaan nie. Water het werklik vreeslike krag en moet gladnie onderskat word nie – al dink jy daaraan om tog maar ‘n kans te waag.

KD GPF ·

Die samewerking Maandag middag en aand was iets om te aanskou,ons GPF en die res is soos n goed geoliede masjien
Ek was self deel van die mense ketting en dit was bevredigend om mense te help en om mekaar op te pas wat in die water was

Lisabon ·

Wat n dapper daad en omgee van ALMAL wat daar was. Baie dankie,

Nettie ·

Fantastiese spanwerk en bravade aan die kant van die mense wat sonder om twee keer te dink, ingespring het en gehelp het.

Maar praat nou van ‘dink’ – hoe DINK mense wat deur vloedwaters of op ‘n verspoelende pad, wil ry? Mense word hoeveel keer gewaarsku om weg te bly van laagwaterbrûe en water massas, maar mense luister net eenvoudig nie. Wat het die dame gedink gaan gebeur as ‘n massa water haar en haar SES werkers in ‘n MOTOR (soos dit berig word) tref? Die Natuur is niemand se speelmaatjie nie – ons moet leer om dit te respekteer.

Lorraine ·

Daar was om hulp geroep op ons Zello laat middag en so het hierdie hele reddingspoging ontvou om die mense in die twee voertuie te help. Daar was soveel vrywilligers wat net in gespring en gehelp het. As hul aan die een plan gedink het kom daar hulp en so het hierdie hele reddingspoging ontvou tot omtrent kwart voor nege. Die ambulans wat reggestaan het , die trauma eenheid. Dit plaas groot knop in jou keel om te hoor hoe almal bereid is om te kom help terwyl dit nog steeds hard gereen het. Dankie dit is ‘n seen om in so gemeenskap te bly.

Thinus Erasmus ·

Baie bly en baie lof vir die dapper redders.
Maar toe ek nog in die laerskool was het ons geleer van ń vloed, vloedgolf en oorstromings. Sien dit werk so: vloed is as watermassa skielik afkom in rivier, loop of vallei, vloedgolf is as die watermassa sommer met so ‘n hoë front aanstorm.
Oorstroming is wanneer watervlak styg en so skade maak.
Kits oorstromings of kits vloede is swak (opgemaakte) Afrikaans, moenie in die Engelse drein gaan vis nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.