Matie geskors ná hy op ander se lessenaar urineer

‘n Skermgreep uit die video.

’n Student aan die Universiteit Stellenbosch (US) is voorlopig geskors nadat hy oor die naweek op ’n ander se besittings by een van die universiteit se manskoshuise geürineer het.

Die voorval het hom Sondag in die vroeë oggendure by Huis Marais afgespeel.

Die US het Maandag by navraag aan Maroela Media gesê die universiteit veroordeel die “vernietigende, kwetsende en rassistiese” voorval ten sterkste.

“Ons is geskok oor hierdie soort gedrag. Sulke optrede sal nie by die universiteit geduld word nie,” sê prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die US.

Volgens De Villiers het die US vinnig en beslissend teenoor die student opgetree om die universiteit se verbintenis tot “kultuurinklusiwiteit” te handhaaf.

“Die Huis Marais-koshuisbestuur is Sondag deur die dag van die voorval bewus gemaak, waarna hulle dit dadelik by die betrokke universiteitstrukture vir dringende ondersoek aangemeld het. Die koshuisbestuur het die voorval ten sterkste veroordeel en stappe gedoen om die nadraai van die voorval in die koshuis te bestuur.

“Dit is belangrik om daarop te let dat die beweerde oortreder verwyder is en nie meer in Huis Marais woon nie.”

Die universiteit het ’n verdere ondersoek gelas en kan nie in dié stadium die moontlikheid van permanente skorsing of strafregtelike aanklagte uitsluit nie.

“Wat by Huis Marais gebeur het, is nie aanvaarbaar nie. Geen student het die reg om ’n ander student se menswaardigheid of regte op hierdie manier te verminder nie,” sê De Villiers.

Die South African Student Congress (Sasco) sê in ’n verklaring die betrokke student het Sondag omstreeks 04:00 ’n slapende eerstejaarstudent se kamer by Huis Marais betree en op dié se lessenaar, handboeke en skootrekenaar geürineer.

’n Selfoonvideo van die voorval is op sosialemediaplatforms gedeel en het ’n herrie ontketen. Die student wat urineer, word in die video gevra waarom hy dit doen. “Ek wag vir iemand,” prewel hy dan.

Volgens Sasco was die student se antwoord op die eerstejaar se vraag egter dat “dit is wat hulle aan swart seuns doen”.

“Sulke afbrekende gedrag is totaal onaanvaarbaar en ondermyn dít waarvoor die US staan, asook die talle voortgesette gefokusde pogings wat aangewend word om inklusiewe studentegemeenskappe by die Universiteit Stellenbosch te bou,” sê De Villiers.

Viwe Kobokana, voorsitter van die studenteraad (SR), sê in ’n verklaring die voorval is by die US se Gelykheidseenheid aangemeld.

Intussen werk die SR saam met belanghebbendes om te verseker dat die student op wie se besittings geürineer is, wel die nodige ondersteuning ontvang en die regte prosesse nou gevolg word.

“Ons rol, as die SR, is in so ’n geval tweeledig: om te verseker dat die student ondersteun word deur psigoterapeutiese dienste te reël, hulle by te staan ​​met vervoer huis toe indien hulle dit sou wou hê, en om die beskadigde eiendom te vervang.

“Tweedens, om te verseker dat openlike dade van rassisme en diskriminasie institusioneel aangepak word,” sê Kobokana.

“Wat in Huis Marais gebeur het, was ’n voorbeeld van die skade wat gemarginaliseerde gemeenskappe – en in hierdie geval swart studente – ly.

Dr. Choice Makhetha, senior direkteur van studentesake by die US, sê die student op wie se besittings geürineer is, is uiteraard steeds erg geskok.

“Hy probeer nog verwerk wat gebeur het en is berading aangebied. Hy sal ondersteun word soos en wanneer nodig om te verseker dat sy akademiese vordering nie deur die voorval geraak word nie.”

ʼn Huisvergadering is ook by Huis Marais belê om te verseker dat al sy inwoners “die situasie verstaan, asook ​​wat alles steeds sal moet verander om ’n herhaling van enige soortgelyke voorval te voorkom”.

Die EFF se studenteorganisasie, die EFF Student Command (EFFSC), het intussen gesê hy veroordeel die geskorste student se “ontmenslikende gedrag wat geen respek betoon nie”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Nicky ·

Ek stem saam dit was nie reg nie, maar die EFF kan nie van respek praat nie want hulle het geen respek vir ander nie

Strandloper ·

Mens noem dit ontgroening…miskien biekie kras. Jong mans is maar soms net jong mans veral met lawaai water.

Pieter ·

en hier gaan ons alweer. Watter kaart, word uit die pakkie gehaal?…………………………..

Misky ·

04h00 In die oggend sê eerder vir my dat die ou duidelik onder die prop was. Indien hy skuldig is, natuurlik ja, straf hom ooreenkomstig. Vieslike gedrag.

piet ·

Natuurlik is hy skuldig, dronk of nie. Daar’s dan ‘n video.

Jean ·

Baie swak, skors die man. Maar dis is snaaks dat dit ‘n rasse ding is maar in die video sê die man niks van swart nie. (al sê die ander man dit is voor die video gemaak is gesê)

Kerrie ·

In Azania is alles oor ras …jy mag nie meer jou opinie gee oor ditwaarvan jy nie hou nie….as ek Alfa-Romeo motors haat, word ek beskuldig as n rassis want hoekom hou ek nie van swart motor-bande nie.

Sarel ·

Daar gaan ons alweer met ” Video Opname:” Leer due mense nooit…e jy doen nie so iets nie nou alweer vet oo die vuur vir Rassisme en dit nogal Stellenbosch. Een so ou
Vernietig jare se werk…

Catherina ·

Nonsens. Ek was ook n Matie en nie sulke simpele goed gedoen nie

sopbeen ·

Sit my kop op ‘n blok hy was op dronk. As hy prewel “ek wag vir iemand” het sy pêlle seker vir hom gesê dit is die badkamer en almal laat spaander. Dis dan een groot grap. Seuns dink nie altyd aan die gevolge nie. Wie laaste lag lag die lekkerste. As dit ‘n wit kind se kamer was het niemand daarvan geweet nie.

Swerwer ·

Hoekom tot op die EFF se vlak daal!
Alle studente ly omdat hulle gedwing word om met mekaar te sosialiseer
en hul kulture afforseer word.

piet ·

Ek het nog nooit gely omdat ek aan ander se kulture blootgesel word nie, inteendeel, dis verrykend.

Mariaan ·

Sies man..steek ons hele volk in die skande! Studente vang nonsens aan..maar daar is perke…ek net nie so seker of dit wat ” slagoffer”
se wel gese is nie..pas nie by “ek wag vir iemand” nie..weer n kans gesien om rassekaart te speel…MAAR hoe ook al…is uiters swak!
..

Marius ·

Ai tog eff. Jul het geen respek, integriteit of ‘n greintjie ordentlikheid in julle nie. So bly eerder stil.

Johanna ·

Die student wat urineer het, het n vreeslike lae selfbeeld. Hy wys geen intelegensie of ordentlikheid nie. Sulke ouens moet maar vat wat hulle kant toe kom na hulle droogmaak sessies. Hy dink hy is groot en sterk as hy.ge-potty train is.
As jy low budget en dom is moet jy maar sukkel.

Kobus ·

Rassisties…..Indien ek nie ‘n persoon van kleur groet nie ,is ek ‘n rassis? Wonder wat hierdie seun aan sy ouers vertel en hoe reageer hulle? Kinders besef nie met watse opofferings hulle ouers hulle op universiteit hou nie. Nou skop emosie in want die “slagoffer” beleef trauma. Het hierdie seun eiendom gebrand en gebreek? Nee, almal skreeu skors ens maar wanneer studente begin brand en breek “onderhandel” universiteite met sulke belhammels. Ek stem saam, hy het reg gedoen nie en sal sy straf moet vat. Ongelukkig gaan alle wit mans nou weer as rassiste uitgekel word

Cecilia ·

So iemand hoort nie op universiteit nie. Wees net regverdig. Moenie woorde in die student se mond sit wat hy nie gesê het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.