Matriek ‘slegs wipmat, nie wenstreep’ vir Helpies

Helpmekaar Kollege in Johannesburg. (Foto: Facebook/ Helpmekaar Kollege)

Die vonkelwynproppe skiet vandag met reg landwyd as crescendo op die skoolloopbaan van duisende matriekleerders wat die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) se eindeksamen in 2023 afgelê het.

Die vreugdevure brand reeds van vroeg af hoog by Helpmekaar Kollege in die hartjie van Johannesburg, wat oudergewoonte met ’n 100%-slaagsyfer spog. Al 221 van dié skool se matrikulante het die IEB-eksamen geslaag, met 217 (98%) wat vanjaar met graadstudie kan wegspring en vyf wat vir diplomastudie gekwalifiseer het.

Helpmekaar se matriekgroep het 805 onderskeidings behaal, oftewel ’n gemiddeld van 3.64 onderskeidings per leerder. Altesaam 187 leerders het minstens een onderskeiding behaal (84,6% van die groep), terwyl 103 matrieks met meer as vier A’s spog. Altesaam 22% van die groep, oftewel 48 matrikulante, het sewe of meer onderskeidings behaal, en 28 leerders het onderskeidings in al hul vakke behaal.

Nie minder nie as ses Helpies spog met tien onderskeidings – Ewan Basson, Andries de Kock, Ezaan Husselmann, Christiaan Portwig, Carine Pretorius en Helen Wilson, terwyl nege kandidate – Mieke Burger, Ann Jacobs, Anke Kelbrick, Jos Kotzé, Michelle le Roux, Michael Neuper, Marco Prinsloo, Zack Smit en Divan van Graan – nege A’s behaal het.

Ewan Basson (Foto: Verskaf)

Jos Kotzé het boonop 100% in wiskunde behaal, terwyl Carine Pretorius met 100% in verdere studies-wiskunde (ook bekend as gevorderde wiskunde) op haar rapport spog. Altesaam tien leerders het 8 A’s, 23 het 7 A’s, en 14 het 6 A’s ingeoes.

“Ons is geweldig trots op ons matriekklas van 2023,” sê Klaus König, skoolhoof. “Dié groep het aan die einde van hul graad 8-jaar in 2019 ’n graadgemiddeld van 71% gehad en hul skoolloopbaan met ’n gemiddeld van 79,8% afgesluit. Dit verteenwoordig ’n styging van 8,8%, wat voorwaar uitsonderlik is.”

Wat numeriese vakke soos wiskunde, rekeningkunde, fisiese wetenskappe, inligtingstegnologie en verdere studies-wiskunde betref, het al die harde werk gewis vrug gedra. Helpmekaar se matriekgroep het ’n gemiddeld van onderskeidelik 75%, 76%, 79%, 74% en 80% in dié vyf syfervakke aangeteken.

Van die 81 matrieks wat Duits, Frans, Spaans (derde tale) en Engels-huistaal geneem het, het 54 ’n onderskeiding behaal. Dié leerders kan die internasionale taalvaardigheidseksamen van die spesifieke land op ’n B2-vlak aflê, wat hulle regstreekse toegang tot universiteitstudie in daardie land se taal bied. Verskeie Helpies het vanjaar ook met groot welslae die skolastiese aanlegtoets (ook bekend as die Scholastic Aptitude Test of SAT) afgelê en keuring vir studie in die buiteland gekry.

Die Helpmekaar-matriekgroep se skittersyfers is egter slegs ’n stukkie van dié skool se suksesverhaal, sê König. “Helpmekaar Kollege se fokus is en sal altyd op veel meer as net akademiese uitmuntendheid en sport- en kultuurtrofees wees. Dít is bloot die kersie op die koek.

“Die Suid-Afrikaanse skoolstelsel as ’n geheel het ’n groter verantwoordelikheid as ooit tevore om ’n geslag jongmense te bemagtig wat holisties-ontwikkeld standvastig te midde van stormsterk winde kan staan en nie deur ’n vinnig veranderende wêreld versmoor word nie. Wat pleks daarvan om blote boekekennis weer te gee, eie denke aan die dag kan lê, die wêreld om hulle kan beoordeel én bevraagteken, en hul roepingspad doelgerig kan vind en volg.”

Volgens König is die harde werklikheid dat skoolverlaters vandag vuurvas los van pragtige punte en prestasies moet wees. “Die nasionale deurvloeisyfer wys jaarliks nie net hoe duisende leerders vóór matriek uit die skoolstelsel ‘verdwyn’ nie, maar ook hoe ’n geweldige groot persentasie nie daarin slaag om, goeie matriekuitslae ten spyt, die tersiêre studiemas op te kom nie. Die maalkolk van jong werkloses en onopgeleide werksoekers raak gevolglik net al hoe groter en daarom kan matriek(syfers) nooit as ’n wenpaal beskou word nie, maar slegs as ’n wipmat die toekoms in.

“Spoguitslae sonder die vestiging van toekomsgerigte en toekomsbestande jongmense het ’n kort rakleeftyd. Daarom is dit elke opvoeder se verantwoordelikheid om positiewe ontwrigters op te rig om in tye van ongenaakbare golwe en onvoorspelbare getye te gedy. Nie net buite die boks te dink nie, maar sommer van dié sogenaamde boks ontslae te raak.

“Elke kind se bedrading én bestemming is uniek. Slaafse eenvormigheid en statistiekgedrewendheid móét plek maak vir seldsame eiesoortigheid en grenslose groei deur ontdekking. Ook dié kind wat sonder ’n onderskeiding sy eie doelpale verskuif en sy denke verruim, verdien ’n klop op die skouer. Want dis húlle wat die toekoms (gaan) skryf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Spekkies ·

Sjoe, baie geluk. Julle is ‘n goeie voorbeeld vir ander skole.

kommentaar ·

Jy weet, alles goed en wel. Ek het egter al ondervind, en doen steeds, dat breins nie noodwendig die werk kry nie. Voorspoed egter aan almal met hulle studies ens.

Jaco ·

Onthou net van “punte opwaarts aanpas” en van skoolstandaarde wat in geheel BAIE laer is as in die ou SA. Ritse leerders met elk 10 onderskeidings laat my ook wonder oor die standaard (moeilikheidsvlak) van al die vakke. In die ou SA was die skoolwerk vir 6 matriekvakke meer as genoeg. Bitter min van die top slimmes het meer as die verpligte 6 vakke gedoen. Jammer om almal se “bubble” te bars, maar trek maar so 25% af om dié huidige “uitstaande prestasies” op die vlak van die ou SA se skoolstandaarde te bring.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.