Matriekuitslae: Curro bars van trots

Isabella Campbell van HeronBridge College het nege onderskeidings behaal. (Foto: Verskaf)

Curro se 1 893 leerders wat in 2022 die matriekeindeksamen afgelê het, spog met ’n uitsonderlike slaagsyfer van 98,63% nadat die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) Woensdagoggend sy matriekuitslae bekendgemaak het.

Nege leerders van dié matriekklas se name verskyn boonop vanoggend op die IEB se lys van uitmuntende presteerders. Leerders wat dié gesogte lys haal, het almal onder die top 5% in ses of meer vakke geval én ’n A in Lewensoriëntering behaal.

Isabella Campbell van HeronBridge College in Johannesburg het nege onderskeidings behaal terwyl Natasha Honey van Curro Hazeldean in Pretoria agt onderskeidings ingeryg het. Mohamed Ismail Salejee van Curro Heritage House in Durban het ook agt onderskeidings behaal.

Salejee het ook ’n uitsonderlike 99% vir Wiskunde behaal.

Die Suid-Afrikaanse Omvattende Assesseringsinstituut (Sacai) se 4 951 matriekkandidate het egter minder goed gevaar met ’n slaagsyfer van 72%. Dit is ’n laer slaagsyfer vergeleke met die vorige jaar se slaagsyfer van 76%.

Sacai sê die jongste slaagsyfer kan grootliks aan die toename in leerdergetalle in 2022 toegeskryf word. Dié instituut het verlede jaar 24% meer matrieks as in 2021 gehad.

Natasha Honey van Curro Hazeldean het agt onderskeidings behaal. (Foto: Verskaf)

Die klas van 2022 het egter 32% meer onderskeidings (1 032 onderskeidings) ingeryg. Sacai se topkandidaat, Danielle Vierbergen, ’n afstandsonderrigkandidaat verbonde aan Teneo, het sewe onderskeidings en ʼn gemiddeld van 93,43% behaal.

Tristan Moodley en Chantelle Visser van Optimi College en Asma Paruk van Qurtuba Online Academy het ook elkeen sewe onderskeidings behaal.

Sacai het nou 1 474 kandidate opgelewer wat kwalifiseer om vir ʼn graad te studeer, 866 wat aan die vereistes om vir ʼn diploma te studeer voldoen en 343 wat vir ʼn Hoër Sertifikaat kan studeer.

Sacai se Wes-Kaapse kandidate het die beste in die matriekeksamen gevaar met ’n slaagsyfer van 77%, gevolg deur Gauteng met ’n slaagsyfer van 74%.

Altesaam 17 onderrigsentrums en afstandsonderrigverskaffers het ’n 100%-slaagsyfer behaal. Qurtuba Online en Syllabis Learning se kandidate het egter die beste gevaar.

Curro 

Mohamed Ismail Salejee van Curro Heritage House het agt onderskeidings behaal. (Foto: Verskaf)

Twaalf ander leerders van Curro se matriekklas van 2022 het erkenning ontvang as deel van die IEB se prysenswaardige prestasies. Dié leerders het onder die top 5% in vyf van hul vakke geval sowel as ’n A in Lewensoriëntering.

Die meerderheid van Curro se leerders (67%) het ’n minimum van ’n C-gemiddeld in die 2022- akademiese jaar behaal. Altesaam 190 leerders het ’n A-gemiddeld behaal.

“Curro se akademiese fakulteit is ongelooflik trots op sy leerders se resultate,” sê Cobus Loubser, uitvoerende hoof van Curro Holdings, ʼn JSE-genoteerde onafhanklike onderwysverskaffer waarvan die matriekuitslae deur die IEB erken word.

“Dit was wonderlik om te sien hoe ons leerders elke geleentheid aangryp om te leer, groei en sukses in die klaskamer te behaal. Die blote kaliber van hierdie leerders is duidelik in hul resultate, en hierdie eienskappe sal hulle goed te pas kom wanneer hulle nuwe uitdagings as die leiers van môre aanpak.”

Sacai verwelkom sy slaagsyfer en wens sy kandidate geluk met hul uitslae.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

piet ·

Ek is verbaas dat daar nie ‘n 100% slaagsyfer is nie, ek bedoel, hoe dop jy matriek as jy in ‘n privaatskool is…

Anel ·

Baie geluk. Wonder nou net hoekom dit so uitsonderlik is om te noem van ‘n A in Lewensorientering?My kinders het die vak absoluut gehaat toe hulle op skool was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.