Matriekuitslae: Curro oortref homself

Dia Singh van St Dominics Newcastle. (Foto: Verskaf)

Die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) het Donderdagoggend sy matriekuitslae bekendgemaak en die 2 296 leerders wat in 2023 die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen (NSS) afgelê het, het oudergewoonte amper ʼn 100%‑slaafsyfer behaal.  Dié groep het ’n uitnemende slaagsyfer van 99,15% behaal – ’n verbetering op verlede jaar se reeds uitsonderlike slaagsyfer van 98,63%.

Altesaam 66,58% van leerders in Curro se matriekklas van 2023 het boonop ’n C-gemiddeld en 9,25% ’n A‑gemiddeld behaal.

Jessica Biesman-Simons van HeronBridge College. (Foto: Verskaf)

Dia Singh van St Dominics Newcastle in KwaZulu‑Natal en Jessica Biesman-Simons van HeronBridge College in Gauteng, is Curro se twee toppresterende IEB-kandidate vir 2023. Dié twee slimkoppe het albei ’n gemiddeld van bo 90% in al hul vakke behaal.

Singh het ‘n onderskeiding in al tien haar vakke behaal.

Ses van die matriekklas het ’n A-gemiddeld in al agt hul vakke behaal en 34 het ’n A-gemiddeld in al sewe hul vakke behaal.

Sebastian van der Wolf van Curro Durbanville in die Wes-Kaap en Calvin van der Merwe van Curro Bankenveld in Mpumalanga het op hul beurt albei 100% vir Ingenieurswese, Grafika en Ontwerp behaal.

“Baie geluk aan al ons leerders en personeel met nog ’n jaar van akademiese uitnemendheid,” sê Cobus Loubser, uitvoerende hoof van Curro Holdings, in reaksie op die uitslae.

“Julle IEB-resultate getuig van julle harde werk, toewyding en talent, en ons is geweldig trots op julle. Julle toekoms is blink en ons glo dat julle sal voortgaan om groter hoogtes te bereik.”

Mylpaal vir aanlyn skool

Curro Holdings se eerste aanlyn skool, Curro Online, se heel eerste matriekgroep het boonop in 2023 die NSS afgelê.  Die skool is in 2020 begin.

“Ons is besonder trots op ons eerste stel matriekuitslae van die aanlyn skool,” sê Loubser. “Dit is verblydend om die sukses van hierdie onderwysmodel te sien wat ontwikkel is vir ’n veranderende wêreld. Dit bewys dat nuwe maniere van leer wel werk. Baie geluk aan almal wat in die visie van hierdie baanbrekerskoolmodel geglo het en dit ’n werklikheid gemaak het.”

Maroela Media het vroeër vanoggend berig die persentasie matrikulante wat die IEB se Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen (NSS) verlede jaar geslaag het, het vir nog ʼn agtereenvolgende jaar gestyg.

Lees meer hier oor die jongste IEB-uitslae.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Papsak ·

Baie baie geluk julle laat die hart warm klop pragtig weet julle kan bou voort !!!!!?

Olive ·

En dit, people is wat ons nodig het vir die toekoms. Geluk aan julle en alle ander wat soos julle gedoen het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.