Nóg meer slaag 2023 se IEB-eksamen

(Argieffoto)

Die persentasie matrikulante wat die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) se Nasionale Senior Sertifikaat- eksamen (NSS) verlede jaar geslaag het, het vir nóg ʼn agtereenvolgende jaar gestyg.

2023 se matrieks het ʼn slaagsyfer van 98,46% behaal, effens hoër as die 98,42% van 2022 en die 98,39% van 2021.

Die IEB het dié syfers Donderdag bekend gemaak.

Volgens die IEB het al sy kandidate ʼn slaagpunt gehad wat goed genoeg is om hul onderrig op tersiêre vlak voort te sit.

Altesaam 88,59% van 2023 se IEB-groep het toegang tot graadstudie behaal, in vergelyking met

89,32% in 2022. Hiermee saam het 8,31% van die leerders vir diplomastudie gekwalifiseer, vergeleke met die 7,52% in 2022.

Volgens die IEB het 1,57% toegang tot studie op die Hoër Sertifikaat-vlak behaal, dieselfde persentasie as in 2022.

Die getal studente wat die IEB-eksamen in 2023 afgelê het, was aansienlik meer as die vorige jaar.

Altesaam 13 967 voltydse leerders en 1 213 deeltydse leerders het in Oktober en November verlede jaar by 275 eksamenlokale regoor die land eksamen geskryf. In 2022 was die algehele syfer 13 525.

IEB skryf die duidelike toename in leerders toe aan 17 nuwe skole wat 960 nuwe IEB-kandidate opgelewer het. Uit dié 17 nuwe skole is 12 tradisionele skole en vyf aanlyn skole.

2023-eksamen verloop vlot, uitdagings ten spyt

Confidence Dikgole, uitvoerende hoof van die IEB, sê die 2023 NSS-eksamen was ook “vry van enige onreëlmatighede” wat die integriteit van die eksamen kon ondermyn.

“Op dié leerders se vyf jaar lange opvoedkundige pad was daar onderbrekings en uitdagings – veral die noemenswaardige onderbreking in onderrig en leer wat deur die Covid-19-pandemie teweeg gebring is.

“Die indrukwekkende prestasie van die klas van 2023 te midde van hierdie uitdagings weerspieël die toegewydheid en vasberadenheid van die leerders én die hele onderwysgemeenskap.”

Dikgole sê daar word egter veels te min gepraat oor die enorme druk wat deur die samelewing op leerders geplaas word.

“Skole se ervaring met jong mense dui op toenemende geestesgesondheidkwessies. Dít is moontlik een van die grootste uitdagings wat ons jong mense in die gesig staar en beïnvloed hul vermoë om op hul beste in ʼn hoëdruk-eksamen te presteer.

“Geestesgesondheid word direk verbind met die stres wat die samelewing op ons jong mense plaas om te presteer, om topuitslae te behaal en om ʼn plek by top- tersiêre instansies te verkry.”

Volgens Dikgole is die kompetisie straf, en is die probleem nie net tot Suid-Afrika beperk nie.

“Dit is wêreldwyd ʼn kwessie.

“Navorsing dui ook op ʼn korrelasie tussen leerders se onafhanklikheid en hul algehele welstand,” sê Dikgole.

Sy meen daar is ʼn groot verantwoordelikheid op skole om selfvertroue, dapperheid en onafhanklikheid onder die jeug te kweek, wat ʼn direkte invloed op hul emosionele welstand en uiteindelike prestasie en sukses het. Dit is ʼn reis wat saam met ouers aangepak word, maar geskied nie altyd suksesvol nie.

Dikgole benadruk voorts die belangrikheid daarvan om te weet dat opvoeding nie ná skool skielik eindig nie.

“Dit is inteendeel net die begin van nuwe geleenthede. Daar is baie opvoedkundige roetes en nie almal van hulle hoef noodwendig na ʼn universiteitsgraad te lei nie.”

Aanpassings om inklusiwiteit te bevorder

In ooreenstemming met sy inklusiewe benadering tot assessering en eksamens het die IEB toegewings en aangepaste vraestelle vir leerders wat dit benodig voorsien.

Aanpassings is vir 10,42% van kandidate (1 583) goedgekeur.

Vraestelle is soos volg aangepas:

  • Sestien vakke is vir vyf kandidate met gehoorverlies aangepas.

Hierdie aanpassings sluit tegnologie soos vetdruk en onderstreping in.

  • Aanpassings is vir twee kandidate met visuele gestremdhede in nege vakke gemaak. Aanpassings sluit in tegnieke soos die vervanging van beelde, prente of diagramme met ʼn geskrewe beskrywing.
  • Ses vakke is in Braille getranskribeer vir ʼn leerder met siggestremdheid.
  • ʼn Aanpassing is vir ingenieursgrafika en -ontwerp (Vraestel 1 en Vraestel 2) gemaak vir ʼn kandidaat met serebrale verlamming.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Martie Smartie ·

Grootste druk is wat die skoolgelde plaas op ouers wat gedwing wor dom te betaal, terwyl daar duisende ‘no fee’ publieke skole is waar leerlinge verniete skool gaan. Maw nie net word belasting geld vir daardie kole gebruik nie, betalende skole se ouers word misken want belasting geld word weerhou van betalende skole. Maar die ANC wil alles en almal manipuleer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.