Matriekuitslae: Só is punte aangepas

Bestuurslede van Umalusi tydens ‘n perskonferensie oor die 2019-matriekuitslae. (Foto: Elaine Krige)

Die meerderheid uitslae van vakke wat vir die 2019-matriekeksamen aan Umalusi voorgelê is, se uitslae het onveranderd gebly.

Tydens ʼn mediakonferensie Vrydag het die raad vir gehalteversekering in algemene en verdere onderwys (Umalusi) aangekondig dat 70% van die 67 vakke wat tydens die nasionale matriekeksamen geskryf het, se uitslae onveranderd gebly het. Dit is ʼn aansienlike verbetering sedert verlede jaar, toe 58% van die vakke wat in 2018 geskryf is, se rou punte goedgekeur is.

Umalusi moet verseker dat die gehalte van vraestelle en die merkproses van die matriekeksamen se antwoordstelle op standaard is. Indien die raad meen dat ʼn bepaalde vraestel te maklik of te moeilik was, of indien die uitslae van ʼn bepaalde vak drasties afwyk van vorige jare se uitslae, kan Umalusi die uitslae vir dié betrokke vak opwaarts of afwaarts aanpas.

“Die feit dat so baie vakke se rou punte as die finale punt aanvaar is, wys dat die gehalte van vraestelle verbeter,” het dr. John Volmink, uitvoerende hoof van Umalusi, Dinsdag gesê. “In die ideale wêreld sou al die vakke se rou punte as die finale punt aanvaar word.”

Van die vakke wat se punte onveranderd gebly het, is wiskunde, wiskunde geletterdheid, rekeningkunde, fisiese wetenskappe, geografie en geskiedenis.

Umalusi sê 13 vakke is opwaarts aangepas, waaronder lewenswetenskappe, tegniese wiskunde en Afrikaans huistaal. Sewe vakke is afwaarts aangepas, insluitende landbouwetenskappe en besigheidstudies. Dit is nie bekend met hoeveel punte dié vakke aangepas is nie.

Wat die onafhanklike eksamenraad (IEB) se uitslae betref, is 81% (52 vakke) van die 64 vakke wat in 2019 geskryf is, se uitslae onveranderd gelaat. Vier vakke se punte is opwaarts aangepas, waaronder rekeningkunde, wiskunde en wiskunde geletterdheid. Agt vakke is afwaarts aangepas, insluitende Afrikaans huistaal, Afrikaans eerste addisionele taal, besigheidstudies, ekonomie en toerisme.

Daar was egter vanjaar, net soos vorige jare, ʼn aantal ongerymdhede wat die geloofwaardigheid van die eksamen vir etlike leerders of lokale in twyfel trek. Volgens Volmink is dit egter minder as vorige jare en het geen sistematiese ongerymdhede tydens die 2019-matriekeksamen plaasgevind nie. Kandidate wat in dié ongerymdhede geïmpliseer word, se uitslae sal nie vrygestel word nie. Die departement van basiese onderwys kondig die matriekuitslae op 7 Januarie aan en matrieks sal hul individuele uitslae op 8 Januarie ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.