Mbalula nié bekommerd oor opgeskorte vlugte

Argieffoto (Foto: Comair/Facebook)

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het Dinsdagmiddag gesê hy is nie bekommerd oor die Burgerlugvaartowerheid (BLO) se onlangse opskorting van Comair-vlugte nie en dat geraakte vliegtuie teen die einde van die week weer in die lug sal wees.

“Ons moenie paniekerig raak nie … voor die einde van die week behoort alles weer terug na normaal te keer,” het Mbalula gedurende ʼn mediakonferensie by die parlement gesê.

Maroela Media het vroeër berig die BLO het Comair, wat British Airways en die laekostelugredery Kulula in Suid-Afrika bedryf, Maandagaand kennis gegee dat onreëlmatighede tydens ʼn onlangse oudit van sy instandhoudings- en tegniese diensteverskaffer, SAA Tegnies (SAAT), gevind is.

Die vliegtuie wat hierdeur geraak word, mag as gevolg hiervan nie vlieg tot die nodige regstellende stappe gedoen is nie.

Comair het ook gister bevestig dat bedrywighede na verwagting vandag weer by dié lugdiensgroep sal hervat.

“Ons is bly dat SAAT sedertdien ’n regstellende aksieplan ingedien het wat daarop gemik is om aandag aan die onreëlmatighede te gee. Die BLO het bevind dat die korrektiewe aksieplan aanvaarbaar is,” het die minister aan joernaliste gesê.

“Die vertragings en kansellasies wat vanoggend ondervind is, is voorsorgmaatreëls wat deur die lugrederye wat geraak word, getref is om te verseker dat geen vliegtuie na die hemelruim gaan sonder enige sekerheid oor die lugwaardigheid [van dié vliegtuie] nie.”

Mbalula het bevestig dat gerugte oor ’n sindikaat van georganiseerde misdaad wat betrokke is by die steel van onderdele by die SAAT en die vervanging daarvan met nagemaakte onderdele aanleiding tot die BLO-oudit gegee het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

wraggies ·

Dis juis die probleem dat hulle oor niks bekommerd is nie, ongelukkig het die ANC ook nie die vermoens om enigiets op te los, al wou hulle.

Arno Scheepers ·

Vir iemand om bekommerd te wees oor n situasie het hy begrip nodig. Juis daarom sal mbalula NOOIT bekommerd wees nie.

Dries ·

Interessant dat di opskort van vlugte, gepaard gaan met di besoek en landing van n Russiese bomwerper, te Waterkloof lugmagbasis

emily ·

Nou word daar gese, Moenie bekommerd wees nie, Asb tog, alles waaraan julle vat neuk julle op. Kyk na Sassa, Eskom en vele meer, So ja ons het ons bedenkeninge.

Ben ·

Ja want hy vlieg mos met Lugmag of privaat stralers teen miljoene rande.Hy hoef ook nie op lughawens te sit en hoor sy vlug gaan nie meer vertrek nie.En dit alles met belastingbetalers se geld.

Alex ·

Liewe mnr F. Jy weet so min van vlieg as ‘n vis van ontkleedans, maar moenie worry nie, hopelik nosedive jou volgende vlug nie in Tafelberg vas nie.

Pieter ·

So, Comair gebruik SAA Tegnies vir hulle onderhoud, en hulle vliegtuie word aangesê om nie te vlieg nie weens onderhoud probleme?
Nou maar wie onderhou SAA se vliegtuie? Comair Tegnies, of SAA non-tegnies?

Stef ·

In n welbekende sage het SACAA die lugdiens Cemair verwoes met vals aannames en gerugte.
Nou is dit Comair wat snaaks ook winsgewend bedryf word in teenstelling met die ANC se vlagredery.
Probeer hulle die spieel breek dat hulle nie na hulle self te kyk daarin nie?

Michael P ·

Mense hier kom probleme ek vlieg baie maar ek raak so bietjie baie nervous oor hier die probleem.

marous ·

Moenie bekommerd wees nie . Die nagemaakte parte sal julle nie verder as die grond laat val nie .

Pieter ·

Ons het van die slimste menisters in die werld hulle kan enige werk doen die ANC is n verleentheid vir ons land

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.