Mbombela-moorde: Selfone word vermis

Shawn Pretorius

Die paartjie wat op Kersdag dood in ʼn huis in Mbombela gevind is, is moontlik beroof.

Albert Greyvenstein, eienaar van Bossies Community Justice en AG Solutions, het aan Maroela Media bevestig Ilonka Craucamp en Shawn Pretorius se selfone word vermis.

Hy het aanvanklik ook bevestig dat Craucamp se vuurwapen vermis word. Dié is egter laat Vrydagmiddag in haar huis in Hoedspruit in Limpopo gevind, sê Greyvenstein. Die moordhuis in Laserstraat in die Steiltes-woonbuurt het aan Shawn en sy eksvrou, Melané Pretorius, behoort.

“Albei se selfone word wel vermis, wat ons laat dink dit kon ʼn huisroof gewees het.” Hy sê die paartjie se liggame is in die sitkamer naby ʼn TV gevind. Dit het gelyk of die twee ʼn “krismisbed” opgemaak het vir die dag.

Pretorius is verskeie kere geskiet, onder meer in sy middellyf, en Craucamp is een keer geskiet, in die kop. Dit is nog onseker wat die kaliber van die vuurwapen is waarmee die twee geskiet is.

Die polisie het aanvanklik gesê niks uit die huis word vermis nie. Brig. Selvy Mohlala, provinsiale polisiewoordvoerder, het ook gesê Pretorius se 9 mm-pistool is met 16 patrone in ʼn holster op ʼn kas in die huis gekry. Hy kon nie sê of enige skote met dié pistool afgevuur is nie.

Volgens Greyvenstein besit Craucamp ook ʼn 9 mm-pistool. Daar is vermoed dat dit gesteel kon wees, maar dit is in ʼn kluis in haar huis in Hoedspruit gevind, sê hy. Mohlala het teen Saterdag steeds nie reageer op navrae oor die wapen nie. Hy wou ook nie bevestig of die polisie nou ʼn klag van huisroof ondersoek nie. Mohlala het vroeër bevestig die polisie ondersoek twee sake van moord.

Jaco Craucamp, Ilonka se gade, het vroeër bevestig hy was besig om van haar te skei. Hy het gesê daar was nie kwade gevoelens tussen hulle oor die skeisaak nie en dat hy geweet het sy en Pretorius is in ʼn verhouding.

Ilonka Craucamp

Dit is juis Jaco en Ilonka se dogters wat op Kersdag alarm gemaak het ná hul ma nie op Kersfeesboodskappe van hulle reageer het nie.

Volgens Jaco was hulle saam op die gesin se plaas buite Hoedspruit en het hom gevra om ondersoek in te stel.  Hy het vir Melané gebel, maar ook sy kon nie vir Shawn in die hande kry nie.

Dit is eers later op versoek van Melané wat die Hi-Tech-veiligheidsmaatskappy in Mbombela na die huis is om ondersoek in te stel.  Die polisie is ontbied toe die veiligheidswagte die twee bebloede liggame gesien het.

Franco Swanepoel van Hi-Tech het vroeër gesê ʼn voertuig is voor die huis opgemerk. Van die vensters en ʼn deur was oop, maar die veiligheidshekke was gesluit. “Ons wagte het ingeloer en twee mense gesien wat leweloos op die vloer gelê het. Die polisie is dadelik ontbied,” sê Swanepoel.

Volgens Swanepoel is inligting ontvang op Oukersdag van inwoners in die omgewing wat skote gehoor het. Dit is egter steeds onseker of dié skote verband hou met die moord op Shawn en Ilonka.

Volgens Greyvenstein word daar nou gekyk na kringtelevisiebeeldmateriaal van huiseienaars in die omgewing. Hy het bevestig daar is beeldmateriaal bekom waarin drie mans op Kersoggend in die area opgemerk is. Dié verdagtes het glo by verskeie erwe ingegaan.

“Ons weet nog nie of hulle betrokke kon wees nie, dit moet ondersoek word. Ons volg alle moontlike leidrade op.”

Pretorius was ʼn plaaslike sakevrou en het onder meer twee Luvit-winkels besit. Pretorius en sy eksvrou het die PostNet in Hoedspruit en ook die PostNet in Mbombela besit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.