Media mag nie militêre oefening bywoon

Die SAS Sekhukhune I is die eerste van drie hipermoderne patrollievaartuie wat plaaslik deur Damen Shipyards in Kaapstad vir die vloot gebou is. (Foto: SA Weermag)

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag het Woensdag gesê dat die media nie die EX MOSI II-marine‑ militêre oefening saam met die Russiese en Chinese vloot mag bywoon nie.

Die oefening vind tussen 17 en 27 Februarie in Durban en Richardsbaai in KwaZulu-Natal plaas.

“Omdat die oefening in die suidelike oseaan plaasvind, is daar besluit om nie die media by die betrokke vlootoefeninge te betrek nie,” het lt.kol. Seitebatso Pearl Block, woordvoerder van die weermag, gesê.

ʼn Mediakonferensie sal glo op 20 Februarie gehou word om die media oor die oefening in te lig en ʼn geleentheid vir vrae te bied.

Die DA het intussen ʼn versoek aan Thandi Modise, minister van verdediging, gerig om dié besluit onmiddellik te herroep.

“Die besluit om die media uit te sluit is geheel en al onaanvaarbaar en ʼn duidelike aanduiding dat Suid-Afrika, onder leiding van die ANC, van sy demokratiese waardes wegbeweeg,” het Kobus Marais, die DA se woordvoerder oor verdediging, gesê.

“Ons veroordeel hierdie besluit en die gebrek aan deursigtigheid wat daarmee gepaardgaan. Hierdie stap kan Suid-Afrika verder van ons grootste en belangrikste handelsvennote vervreem.”

Marais sê dit is ʼn verdere bewys dat die Suid-Afrikaanse regering in die geheim saam met Rusland wil voorberei vir verdere marine-aanvalle deur dié land.

“Dit kan Suid-Afrika gesamentlik aanpreeklik maak vir Russiese aanvalle en moontlik ook oorlogsmisdade.

“Ons weermag is veronderstel om in belang van Suid-Afrika op te tree.”

Die DA sê voorts dat die Suid-Afrikaanse regering dalk ook skaam is oor die toestand van die land se weermag en vermorsing van vaardighede onder die ANC se leierskap, daarom dat hulle nie te veel getuies teenwoordig wil hê nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.