Mediumtermynbegroting ‘van kritieke belang’

Minister Enoch Godongwana aan die woord. (Foto: Twitter)

Minister Enoch Godongwana se mediumtermyn-begrotingsraamwerk (MTBR) gaan nie Woensdag enige goeie nuus inhou nie, aldus die ekonoom Dawie Roodt.

Die MTBR bied die minister van finansies jaarliks die geleentheid om Suid-Afrikaners ʼn opdatering te gee omtrent die stand van sake wat onder meer ekonomiese groei, belastinginvordering en staatsbesteding betref.

Dit is vanjaar egter geen geheim dat staatskuld op die hoogste vlak in jare is nie. “En dit styg teen ’n onheilspellende tempo,” waarsku Roodt.

Aansienlike bestedingseise staar die minister van finansies in die aanloop tot volgende jaar se verkiesing in die gesig. Dit sluit in eise om die openbare sektor se loonrekening en maatskaplike verligting aan Suid-Afrika uit te brei, sowel as nog reddingsboeie aan sukkelende staatsondernemings.

Dít te midde van ʼn groot daling in belastinginkomste.

Roodt verwag daarom dat Godongwana ekonomiese groei Woensdagmiddag afwaarts gaan aanpas.

“Die inkomstekant is onder baie druk. Hy gaan vir ons sê dat die ekonomiese groeiverwagting swakker is as wat hy aanvanklik gedink het. Hy gaan ook sê belastingontvangste doen swakker as wat hy aanvanklik gedink het.

“Hy gaan terselfdertyd vir ons vertel dat daar meer uitgawes is as wat daar aanvanklik vermoed is en dit het hoofsaaklik te doen met die verhoging van staatsamptenare se salarisse.

“Hy gaan ook vertel hoeveel hy gaan leen. En ek kan sommer nou al vir jou sê hy gaan probeer om die wol oor ons oë te trek wat daardie syfers betref.”

Die nasionale tesourie het in Augustus vanjaar op ʼn uitsonderlike groot daling in belastinginkomste (R22 miljard) vir die eerste vyf maande van die jaar gewys. Die tesourie het in daardie stadium gesê daar is onder meer nie ten volle begroot vir loonverhogings in die openbare sektor nie.

Die inkomstetekort vir die boekjaar het boonop in daardie stadium op sowat R67 miljard gestaan.

(Argieffoto: Christel Cornelissen)

Dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van die Optimum-beleggingsroep, is ondanks dié syfers aansienlik meer optimisties as Roodt.

“Kyk, ek het nie ʼn gebrek aan objektiwiteit nie,” verduidelik hy. “Die feit bly staan dat die regering meer spandeer het vergeleke met verlede jaar en die minister sal Woensdag daarna móét verwys. Hy sal ook moet sê hoe hulle dit gaan inperk.”

Botha is ten spyte van die oorbesteding nie té bekommerd nie. “Daar lê nog goeie inkomstemaande voor.”

Botha wys daarop dat die huidige fiskale jaar maar in April begin het en die beskikbare syfers net tot einde Augustus strek.

“Dit is nie objektief om die huidige fiskale jaar ná slegs vyf maande met ʼn hele vorige fiskale jaar te vergelyk nie. Indien jy gaan kyk na dieselfde vyf maande verlede jaar sal jy ook sien dat staat se inkomste presies dieselfde is (± R650 miljard).”

Botha sê ook dat voorlopige belastingbetalers se finale belastingopgawes einde Oktober ingedien moet word. November is dus ʼn goeie inkomstemaand vir die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

Desember is óók ʼn “skitterende inkomstemaand” vir Jan Taks, sê Botha, aangesien kleinhandelverkope jaar ná jaar geweldig toeneem weens Swart Vrydag, Kuber Maandag, vakansiebesteding en die uitbetaling van bonusse.

Eskom het boonop die laaste ruk aansienlik minder beurtkrag toegepas en dit gaan óók ’n positiewe rol speel op die vierde kwartaal se syfers, voorspel Botha.

(Foto: Shutterstock)

MTBR ‘kritiek’ vir sakevertroue

Busisiwe Mavuso, uitvoerende hoof van Business Leadership South Africa (BLSA), sê Woensdag se MTBR is van “kritieke belang” vir sakevertroue. “Ek hoop ons sal ʼn duidelike verbintenis tot fiskale dissipline sien, bestedingsbesluite wat groei ondersteun en steun vir die strukturele hervormings wat ons nodig het om die ekonomie te laat groei.”

Roodt beaam dit.

“Dit is kritiek belangrik wat hierdie week gaan gebeur. Onthou, die grootste ekonomiese speler in die land is die staat en die staat is besig om bankrot te gaan. Op die ou end kan die staat net voortbestaan as daar ʼn ekonomie is.”

Mavuso verwag dat Godongwana Woensdag ʼn balans tussen besteding en belegging gaan behou. “Verbruiksbesteding laat nie die ekonomie groei nie. Ons moet investering sien, veral in die infrastruktuur wat nodig is om ekonomiese groei aan te dryf. Die minister het te kenne gegee dat sommige infrastruktuurbesteding vertraag sal word aangesien die regering poog om kontant aan te skaf om sy weg deur die tekort te bestuur.

Enoch Godongwana, die minister van finansies. (Foto: GCIS)

“Die fiskale dissipline wat dit impliseer, is goed vir sakevertroue, al is infrastruktuur die sleutel tot die oplossing van beperkings op die ekonomie.”

Mavuso sê daar is ʼn eenvoudige manier om die druk te help verlig.

“Omhels die private sektor. Vennootskappe kan uitgebreide investering in infrastruktuur moontlik maak.”

Sy stel dit egter duidelik dat dit nié ʼn blanko tjek is nie, ook nie ʼn uitnodiging tot afhanklikheid nie.

“Die doelwit is om die ontwikkeling van staatskapasiteit te ondersteun sodat dit die ekonomie kan bestuur en dienste kan lewer. Hierdie ondersteuning moet behoorlik gereguleer word. Waar vennootskappe belegging ondersteun, moet die rolle en verantwoordelikhede van elke vennoot duidelik omskryf word met die beleidsbesluite duidelik in die domein van die regering.”

Mavuso sê die MTBPS is dus ʼn geleentheid om vertroue op verskeie fronte te skep. “Dit kan fiskale dissipline demonstreer deur besteding in toom te hou en belastingverhogings of groter skulduitreiking te beperk.

“Dit kan wys dat die begrotingsbesluite gedryf word deur groeioorwegings, besteding aan opgradering en verbetering van die openbare sektor, terwyl dit ook investering ondersteun. Dit kan belegging in die private sektor ondersteun deur die staat se verbintenis tot vennootskap met private beleggers te onderskryf om infrastruktuurinvestering aan te dryf.”

  • Minister Enoch Godongwana sal Woensdag omstreeks 14:00 die MTBPS in die parlement ter tafel lê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Dit bly problematies vir lande met ‘n lae ekonomiese groeitrek om net te leen en te leen. Veral lande met hoë werkloosheid, lae produktiwiteit en gebrek aan direkte buitelandse investering.

Andre ·

…alles gaan vou, vir die eenvoudige rede wat Dawie Roodt lankal propageer: staatskuld ! Die regering is bankrot!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.