Meegevoel betuig vir slagoffers van Jhb-brand

Brandbestryders en polisiebeamptes is ontplooi voor die uitgebrande gebou in Johannesburg (31 Augustus 2023) (Foto: Guillem Sartorio/AFP)

Verskeie organisasies het hul meegevoel betuig ná ʼn brand Donderdagoggend by ʼn gebou in Johannesburg se middestad die lewens van minstens 73 mense geëis het. ʼn Verdere minstens 52 mense is beseer.

John Steenhuisen, leier van die Demokratiese Alliansie, sê dit is ʼn katastrofe vir die land wat “onkenbare pyn en lyding aan onskuldige mense veroorsaak het”.

“Ons hoop dat die nooddienste in Johannesburg vinnig sal werk om verdere lewensverlies te voorkom en vertroosting te bring vir diegene wat geraak word deur die tragedie.”

Die DA se verteenwoordigers in Johannesburg sal alles in hul vermoë doen om die betrokke persone by te staan. “Ons sal steeds bly veg vir veiliger lewenstoestande en behoorlike behuising vir middestad-inwoners.”

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, het ook sy innige meegevoel betuig met die families en geliefdes van die slagoffers.

“Ek dink aan die familielede wat hul geliefdes verloor het en aan die persone wat in die verskriklike tragedie beseer is.”

Hy het bystand aan die Johannesburgse stadsraad, nooddienste en provinsiale regering aangebied.

“Ons provinsiale rampbestuurspan staan gereed en is bereid om te help waar hulle kan.”

Die motorverkoopbedryfvakbond Misa het ook sy meegevoel betuig met al die families wat geliefdes in die tragedie verloor het. “Ons dink aan die slagoffers en almal wat ondersteuning bied by die gebou of ons hospitale,” het Martlé Keyter, uitvoerende bedryfshoof van Misa, gesê.

Die ondersoek na die oorsaak van die brand duur voort. Volgens owerhede kan kerse, stowe of ander verhittingstoestelle moontlik die oorsaak wees van die brand.

ʼn Inwoner het aan AFP gesê meeste van die inwoners was uitlanders.

Minstens sewe kinders is dood waarvan die jongste jonger as twee jaar oud, het Robert Mulaudzi, woordvoerder van die Johannesburgse nooddiens, gesê. Sommige het onherkenbaar verkool.

“Ek is dankbaar om te leef,” het Kenny Bupe, wat in die brand vasgekeer was toe hy ʼn vriend besoek het, gesê. “Baie van ons het gehardloop. Ons het die brand-uitgang gesoek en baie mense is uiteindelik dood weens rookinaseming.”

Die 28-jarige Bupe het aan AFP gesê hy was deel van ʼn groep wat ʼn geslote brandhek kon oopsluit en na veiligheid kon hardloop. Ander het “uit vensters gespring” om hulself te red.

Komberse en lakens wat gebruik is om uit die gebou te ontsnap hang steeds van die uitgebrande vensters.

“Dit is ʼn groot tragedie,” het pres. Cyril Ramaphosa tydens ʼn byeenkoms in Gqeberha gesê. “Ons dink aan elkeen wat deur dié ramp geraak word.”

Die gebou, wat ontruim is, is as ʼn informele nedersetting gebruik, het Mulaudzi gesê. Inwoners het vermoedelik dus onwettig daar gewoon.

In die gebou was ʼn veiligheidshek wat gesluit was, so mense kon nie uit die gebou kom nie. Talle verkoolde liggame is by dié hek aangetref, het AFP berig.

Tragedy unfolding in Johannesburg Medical and Fire teams have been on site fighting the blaze in Marshall Town -…

Posted by Medi Response on Thursday, August 31, 2023

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Chris dupreez ·

Nou waar is grootbek malema , hy hits mense aan om geboue te beset, hy is deels skuldig aan die tragedie

Dromer ·

Dis hartseer. Hoeveel van daai mense was Suid Afrikaners en hoeveel was onwettig?

Papsak ·

Dit gebeur as hulle orals wil in trek en oor vat dan word vure gemaak net soos hulle wil so dan gebeur dit bring dit oor hulle self klaar

Manie ·

Die brandweer reken dat die inwoners shacks binne die gebou opgerig het en dat dit reeds die rede was hoekom hulle nie by die mense kon uitkom nie. Verbeel jou, strukture binne ‘n gebou oprig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.