Meer angs oor inkomste-verlies as Covid-19 self, toon studie

Suid-Afrikaners beleef meer angs oor hul verlies aan inkomste as gevolg van die Covid-19-pandemie as oor die pandemie self.

Volgens ʼn aanlyn studie getiteld “Covid 19 Barometer” wat deur die navorsingsmaatskappy Clear Strategy Company van stapel gestuur is en reeds deur sowat 16 000 respondente voltooi is, is respondente se vlak van angs uit 100 oor hul verlies aan inkomste sowat 76,3, terwyl hul vlak van angs oor die siekte self 66,8 uit 100 is.

Respondente se vlak van angs met betrekking tot Covid-19 soos op 8 April. Bron: Clearstrategycompany.com.

Respondente se vlak van angs met betrekking tot verlies aan inkomste as gevolg van Covid-19 soos op 8 April. Bron: Clearstrategycompany.com.

Uit die resultate van die studie is dit verder duidelik dat respondente se angs oor sowel hul verlies aan inkomste as Covid-19 self, ʼn skerp toename getoon het sedert verlede naweek (4 en 5 April). Die rede vir dié toename in angsvlakke is nie duidelik nie.

“Dis moontlik dat mense wat van die huis af werk, nou kans gehad het om oor die situasie na te dink, en dat die realiteit van die situasie mense eintlik eers getref het ná maandeinde met debietorders wat nie afgegaan het nie en betalings wat nie gemaak kon word nie,” sê Johannes Loots, ʼn projekbestuurder van Clear Strategy Company. “Dit tref mense dalk nou eers wat moontlik vorentoe kan gebeur. Daar is egter nie data in ons navorsing wat hierdie afleiding staaf nie.”

Respondente se huidige vlak van angstigheid uit ʼn telling van 100 met betrekking tot Covid-19 (daaglikse neiging) tot en met 8 April. Bron: Clearstrategycompany.com.

Wat betref respondente se ervaring van die nakoming van voorkomende maatreëls deur winkels, blyk dit uit die resultate of winkels goeie maatreëls in plek het, hoewel daar nog ruimte is vir verbetering. Veral respondente se terugvoer oor kassiere en pakkers dui daarop dat moontlik meer by betaalpunte gedoen kan word om veiligheidsmaatreëls na te kom.

Terwyl 94,5% van respondente aangedui het dat daar voldoende handreiniger by winkels se ingange beskikbaar is, en 80% opgemerk het dat daar ekstra afveelappies beskikbaar is om winkelwaentjies mee af te vee, het slegs 59,9% van respondente winkelpersoneel sien handskoene dra, 50,7% het winkelpersoneel sien maskers dra, en 50,5% het opgemerk dat oppervlakke by die betaalpunt na elke klant behoorlik skoongemaak word.

Die studie toon verder dat die meeste respondente baie moeite doen om hul gedrag te verander in ooreenstemming met voorgeskrewe regulasies vir die beperking van die verspreiding van die nuwe koronavirus, met handhigiëne (blad skud met ander asook hande was) en fisieke kontak met ander wat getrou nagekom word.

Nakoming van riglyne vir Covid-19-voorkoming (daaglikse neiging) tot en met 8 April. Bron: Clearstrategycompany.com.

Die studie het reeds tien dae voor die inperking afgeskop, met 6 032 Suid-Afrikaners wat tot met die aanvang van die inperking deelgeneem het en nog 10 146 wat sedert die aanbreek van die inperking tot en met 19:00 op 8 April die vraelys voltooi het. Die studie duur voort en resultate word daagliks bygewerk en op die webblad beskikbaar gestel.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Anoniem ·

Ek glo die selfmoord syfer gaan meer wees as die covid19 sterftes. Ek sit in dieselfde boot. Jy hoor van banke wat jou gaan help maar my bank soek briewe, hulle stel nie belang om n uif vorm waar jou werkgewer aandui dat jy nie gaan salaris ontvang nie. Dus moet hulle maar my voertuie en huis vat. Om eerlik te wees ek het al gegoogle wat is die maklikste en minste pyn uitweg vir selfdood. Waar gaan ek as 62 jarige sonder pensioen weer n inkomste kry
Wie gaan my n werk gee as daar nie is nie. Sonder geld is jy sonder dak, kos, klere ensovoorts. Jy is gestrip van jou waardigheid jy het jou lewe gegee vir n land wat jou in die steek gelaat het.

Sune van Heerden ·

Dagsê Danie, ons sal jou graag in verbinding wil bring met iemand met wie jy kan gesels as jy depressief is of selfmoordgedagtes het. As jy instem, stuur asseblief vir ons ‘n e-pos aan [email protected]. Groetnis

Schalk N ·

Dagsê Danie. Hou moed GOD het ALTYD n uitweg soms gebeur daar snaakse goed in ons lewens. Ek self ry in jou/ons BOOTJIE. Al het ons die roeispane verloor, en die bootjie dryf gaan ons steeds in n rigting waarheen weet ons nie… Dit is gedurende hierdie tye wat ons 100% op GOD moet vertrou.

Jaco ·

Jip, my lewe is verwoes, ht my jare gevat om my onderneming op te bou met baie trane en sweet, indien hierdie ding verleng sou word dan vou my besigheid verseker. Ek sou nie weer kans sien om als oor te doen of aan te gaan met my lewe nie, ek glo honderde duisende entrepreneurs in Suid Afrika voel tans so. Miljoene mense se lewens in Suid Afrika is verwoes!!! Die regering se “kuur” regverdig nie sie siekte nie. Ek dink nie mense besef in watse groot ellende ons in gedompel is nie. Jy gaan HONDERDE DUISENDE mense sien omkom van die honger en selfmoorde!!!!!!

Sune van Heerden ·

Dagsê Jaco, ons sal jou graag in verbinding wil bring met iemand met wie jy kan gesels as jy depressief is of selfmoordgedagtes het. As jy instem, stuur asseblief vir ons ‘n e-pos aan [email protected]. Groetnis

ZeldA ·

Dieselfde bootjie. Ek en my man het ons eie besigheid ook begin jare terug. Ons het 2 kinders op skool… Almal soek nog geld en ons is gedwing om toe te maak. Sonder n inkomste…. Ek dink hul kan mense laat werk met nodige veiligheidsmaatreels. Ek dink meer mense gaan doodgaan van “ander gevolge” as covid

Jannie van Niekerk ·

Ek is ook meer bekommerd oor verliese aan werk en inkomste as oor Covid 19. Dit is jammer dat daar mense doodgaan as gevolg van Covid19,( in Suid Afrika 18 tot dusver,) MAAR aangesien Coviod 19 ‘n Biologies oorlog is wat deur Moeder Natuur teen die mensdom verklaar is, moet mens aanvaar dat daar mensveliese gaan wees, soos in enige oorlog. In hierdie geval die Derde Wêreldoorlog wat deur Moederr Natuur verklaar is. Indien ek die lewensverlies tot dusver opweeg teenoor werksverliese en verlies aan inkomste, weeg bekommernis oor laasgenoemde baie swaarder as Covid 19 se (hartseer) verliese

Ruben ·

Stem saam met julle ek sou se as dit regtig n vernietigende virus wat mense links en regs doodmaak sal dit wat nou gebeur dit regverdig.Maar nie vir die Corana virus wat slegs twee persent sterftes veroorsaak en dit by 90 pers ou mense dit is kommerwekend.Wat van hierna gaan die wereld stilstaan elke keer as iemand siek word vir n snaakse siekte oor ons bang is.Vir die virus is ek glad nie bang maar vir armoede en hongersnood sien ek nie kans voor.

Sonneblomkind ·

Ek stem saam met Danie. Selfmoord en Gesinsmoord gaan toeneem. My hart gaan uit na almal wat werkloos is in hierdie tyd. Al wat ek kan doen is om te se dat daar mense is wat bid en nie ophou bid nie

Jacobus ·

Hierdie maatreëls is waarskynlik die korrekte optrede in ‘n normale samelewing. Maar hierdie ís nie ‘n normale land in normale omstandighede nie. Die armes het verder verarm en ook pogings van ‘n sterk middelklas is deur drakoniese, korrupte en rassistiese wetgewing feitlik uitgewis.
En toe tref Covid19. Weer word gevra dat almal moét saamwerk. Miskien is die gewraakte arrogante video van ‘n minister die toonbeeld van wat die opperstes van ons dink.
Só, ons opsies is om hard trerug te veg, en ons MAAR sonder twyfel gaan die opperstes wéér die “magic” kaart gebruik. Ons vs hulle.
Ons kan nie handoek ingooi nie – met baie Genade van Bo sal ons moét terugstoot.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.