Meer as 400 000 ℓ na droogtegeteisterde Karoo

Duisende liters water is aan droogtegeteisterde gemeenskappe in die Wes-Kaap geskenk. Dit word gebruik om reservoirs op te vul. (Foto: CCPB)

Meer as 400 000 ℓ water is aan droogtegeteisterde gebiede in die Karoo afgelewer.

Coca-Cola Peninsula Beverages (CCPB) het in samewerking met die Wes-Kaapse departement van plaaslike regering, asook die burgemeesterskantoor van die Sentrale Karoodistrik die afgelope paar weke onophoudelik gewerk om water aan gemeenskappe in dié streek te verskaf.

Dr. Annelie Rabie, burgemeester van die Sentrale Karoodistrik, het gesê dit is veral die dorpe Laingsburg, Prins Albert en Beaufort-Wes wat steier onder die droogte. Die hele streek, van Matjiesfontein tot Murraysburg, word as ʼn hoë risiko vir bestendige watervoorsiening beskou.

“Ons is diep bekommerd oor die droogtekrisis wat verskeie gemeenskappe in die streek raak. In ooreenstemming met ons waardes wil ons help omsien na die gemeenskappe wat ons bedien en ons wil help waar ons ook al kan in dié tyd dat water uiters skaars is,” het Priscilla Urquhart, woordvoerder van CCPB, gesê.

Om dié rede het hulle na die Wes-Kaapse regering uitgereik en aangebied om drie 30 000 ℓ-watertenkwaens beskikbaar te stel om water na die gebied aan te ry.

“Ons is geweldig dankbaar vir CCPB se ondersteuning van ons pogings om droogteverligting te bring na dié hoërisikogebiede,” het Graham Paulse, hoof van die Wes-Kaapse departement van plaaslike regering, gesê.

“Die regering kan nie alleen aan die behoeftes van ons gemeenskappe voldoen nie. Ons het slim vennootskappe en samewerking met die private sektor soos CCPB nodig.”

Die projek gaan moontlik ook na die Noord-Kaap uitgebrei word. (Foto: CCPB)

Die maatskappy se tenkwaens word sedert vroeg Desember ingespan. Aanvanklik is 180 000 ℓ fonteinwater van Mount Superior na Laingsburg vervoer. Die dorp is geprioritiseer weens sy kritiek lae watervlakke.

Die water is gebruik om reservoirs in die gebied op te vul. Die beurtkrag wat ʼn ruk gelede in werking gestel is, het beteken water kon nie in reservoirs gepomp word nie en weens ʼn gebrek aan waterdruk het dit hoërliggende gebiede heeltemal sonder water gelaat.

Tot dusver het verskeie dorpe reeds duisende liters water ontvang.

Dit sluit in:

  • Laingsburg: 270 000 ℓ
  • Prins Albert: 90 000  ℓ
  • Ladismith, Kannaland-munisipaliteit: 60 000 ℓ
  • Zoar, Garden Route-distriksmunisipaliteit: 30 000 ℓ

ʼn Vrag met bottels water van altesaam 21 000 ℓ is aan die Laingsburg-munisipaliteit geskenk. Dit word dan weer aan inwoners versprei.

Daar is ook reeds samesprekings oor hoe nóg gemeenskappe, onder meer in die Noord-Kaap, op dieselfde manier gehelp kan word.

“Geen enkele maatskappy of organisasie kan die wêreld se waterkwessie alleen oplos nie, maar deur innoverende vennootskappe soos dié kan ʼn belangrike gedeelde hulpbron beskerm word. Ons moedig ander ondernemings aan om dieselfde te doen om gemeenskappe wat deur die droogtekrisis geraak word, te help.

“Die doeltreffendste werk word gedoen wanneer daar samewerking tussen die staat en die private sektor tot voordeel van plaaslike gemeenskappe is,” het Urquhart gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.