Meer as helfte van steenkoolopwekkings-kapasiteit tans kapoet

(Argieffoto: Du Preez de Villiers)

Die DA het ’n beroep op die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, gedoen om Suid-Afrikaners op hoogte te hou of Eskom oor voldoende ingenieur- en tegniese kundigheid beskik om die groot aantal steenkoolkragstasies te kan hanteer wat van lyn is, hetsy weens opwekkingseenhede wat onklaar raak of instandhouding.

Eskom het Maandag gesê 19 333 MW van sy 37 698 MW steenkoolopwekkingskapasiteit is tans van lyn weens opwekkingseenhede wat onklaar geraak het, met 4 524 MW se kapasiteit wat nie beskikbaar is nie weens beplande instandhouding.

“Met die komende wintermaande en die verwagte toename in elektrisiteitsaanvraag, nieteenstaande die feit dat Eskom reeds gemiddeld elke week fase 6-beurtkrag implementeer, moet die kragvoorsiener seker maak soveel moontlik kragstasies is werkend,” sê Ghaleb Cachalia, die DA se skaduminister van openbare ondernemings.

Cachalia sê een van die grootste probleme is die kragonderbrekings weens ʼn versuim aan instandhouding van kragstasies en ook kundige ingenieurspanne wat onverpoos hul aandag aan die stukkende kragstasies gee.

“Vir hierdie doel moet Gordhan ’n opdatering gee oor die aanlyn skareverkrygingsplatform wat hy verlede jaar bekend gestel het om mense met die vereiste kundigheid en vaardighede in staat te stel om hul besonderhede aanlyn in te dien om te help om Eskom se ernstige vaardigheidstekort te pak. In die laaste opdatering wat in November verlede jaar gegee is, is slegs 25 van die 238 individue wat op die platform gereageer het, gekies vir die eerste fase van die skareverkrygingsinname.

“As ’n mens die uitdagings wat Eskom op tegniese en ingenieursvlak het in ag neem, is die toevoeging van net 25 individue tot Eskom se tegniese afdeling eenvoudig onvoldoende. Daar is berig dat deel van die rede waarom Eskom nie soveel afgetrede ingenieurs kan aanstel as wat dit moet nie, is omdat hy aan regstellendeaksie-vereistes moet voldoen.”

Sprake van fase 7-beurtkrag laat Suid-Afrikaners moedeloos en gerugte dat protokolle gefinaliseer word vir fase 9-beurtkrag, skets ’n pikdonker prentjie.

Samantha Graham-Maré, die DA se skaduminister van elektrisiteit, sê dié verhoogde beurtkrag sal rampspoedige gevolge op mense se lewensbestaan en die land se ekonomie hê.

“Die verhoogde beurtkragfase sal munisipaliteite se vermoë om water aan inwoners te verskaf, beïnvloed, aangesien daar nie genoeg tyd is vir om reservoirs weer op te vul wanneer daar kragtoevoer is nie. Selfoontorings begin na drie ure die vermoë verloor om seine uit te stuur, wat landelike dorpe tydens vier ure se beurtkrag sonder kommunikasie laat. Kleiner voedsel-kleinhandelaars het nie die vermoë om vleis en ander produkte vir lang tydperke koud te hou nie en daar is ’n baie groot risiko van kontaminasie en voedselvergiftiging. Klein ondernemings soos haarkappers, drukkerye, bakkerye en naaldwerksters is nie in staat om vir ure aaneen sonder krag te werk nie, wat hul vermoë om ’n inkomste te genereer en hul ondernemings volhoubaar te hou, ernstig beperk. Die meeste kan nie ’n kragopwekker of die brandstof bekostig om een te laat loop nie,” verduidelik Graham-Maré.

Die Nasionale Rasionalisering Spesifikasies (NRS)-vereniging, die liggaam wat verantwoordelik is vir die opstel van die beurtkragprotokolle, het breedvoerig gekonsulteer en raam dat hulle die nuwe skedule binnekort by die Nasionale Energiereguleerder (NERSA) sal indien. Die doel van hierdie protokolle is om te verseker dat alle entiteite betrokke by die verspreiding en verskaffing van elektrisiteit dieselfde reëls en prosedures volg in die implementering van beurtkrag ten einde ’n totale ineenstorting van die netwerk te voorkom.

“Die DA verwelkom die proaktiewe benadering deur NRS om voor te berei vir fase 9-beurtkrag en hoër fases. Die gedagte aan sulke uiterste maatreëls is egter ondenkbaar. Met die stigting van die Nasionale Energiekrisiskomitee en die ontwikkeling van die Energie-aksieplan in 2022, is ons verseker dat die energiekrisis prioriteit geniet. Agt maande later, sonder enige verbetering in die situasie, is ons in kennis gestel van die aanstelling van die nuwe minister van elektrisiteit, dr. Kgosientsho Ramokgopa, wat die taak gehad het om die Energie-aksieplan te bestuur. Byna vyf maande is verby en ons het in totaal twee dae nie beurtkrag gehad nie.

“Suid-Afrikaners kan nie veel meer hanteer nie. President Cyril Ramaphosa moet die magte van Ramokgopa finaliseer, wat op sy beurt die magdom beloftes wat sedert verlede jaar gemaak is, moet nakom.”

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, raak die land aan fase 7-beurtkrag en sit in die donker as gevolg van die regering wat voete sleep. Hy meen ʼn oplossing is moontlik, maar “die regering is funksioneel en ideologies te gestrem om dit te vind”.

“Die regering is totaal te stadig om die private sektor op die kragnetwerk te kry […] sy opwekkingsvermoë gaan versleg en nie verbeter nie,” het Hermann vroeër aan Maroela Media gesê.

In dieselfde asem het hy egter gesê dat daar “steeds geen sprake van ʼn totale ineenstorting van die netwerk is nie”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Sekere sektore of bedrywe sal hul aktiwiteite moet afskaal of selfs stop. Die res sal die ekonomie moet dra. Taai besluite moet geneem word.

Frank ·

Ja, ons dink vinnig aan SAL, Poskantoor, Denel, SABC, munisipaliteite ens ens ens wat die ANC in die afgrond in bestuur het, maar in die breë prentjie is die ANC verantwoordelik dat die man op straat se besigheid te gronde gaan, die land se ekonomie. En hom gevolglik ook nog in die diepste skuld denkbaar dompel.

Tong in die kies ·

Ek dink die grootste vraag wat ons almal vra en wat of nie beantwoord word nie, of plein weg net geignoreer word is die volgende:
Met ons huidige fase 6 . Hoekom nie loadshedding hê sê maar van 20h00 to ± 04h00 nie. Dit is winter en in elk geval vroeg donker. Min mense sal wakker wees daardie tye. Pleks dat die tye gebruik word vir loadshedding.

En niemand gaan my keer om sonkrag op te wek nie. Die son het nie ‘n aan/ af knoppie wat beheer kan word nie.

Witbaard ·

Jy verstaan duidelik nie hoe kragopwekking werk nie. Dit word nie opgewek en gestoor nie, dit word outomaties opgewek soos die behoefte ontstaan. Hoe groter die vraag, hoe groter die opwekking.

Kokerboom ·

Die Eskom sage is ‘n beplande kwaadwillige optrede en ernstige benadeling van die burgers van SA se regte onder die grondwet deur die ANC regering onder dekmantel van regstellende rassistiese aksies.
Tyd vir praat is verby en ernstige klasaksies moet teen die regime in plek gestel word. Hul vertrap die man in straat se regte en pleeg letterlik terrorisme teen inwoners.

Nico ·

Al die graad een kole word uit gevoer en Eskom gebruik lae graadse kole. Laat die regering ook voel hoe voel beurt krag en laat Soweto betaal vir hul krag toevoer, die president en al die lede van die kabinet kan gerus ook kragopwekers gebruik met die petrol pryse wat so hoog is.

Pierre ·

Ons steenkool stasies is nie ontwerp om n beter graad steenkool te brand nie.

Veronika ·

Sal liewers verskonings uitdink oor regstellende aksie ipv die ingenieurs aanstel en die gemors reg kry!! Sê nogsteeds die ministers en sg president moet ook ly onder beurt krag dan sal daar dalk iets aan gedoen word!!

Elma ·

Wat presies behels “om voor te berei vir fase 9 en hoër?? Sit net die krag langer af – dis mos maklik vir julle of hoe. En vir die DA om aan te dring dat die regering Suid-Afrikaners op hoogte gehou word oor of Eskom oor die nodige vaardighede en tegnici beskik, is mors van tyd en asem. Eskom sal tog net sê “ja ons het die regte mense” – dis egter heel logies dat hulle beslis nie die waarheid sal praat nie. Ag wat maak dit saak, 12 ure sonder krag is al reeds n totale ineenstorting.

Nie Verbaas ·

DA net n mini ANC met Steenhuizen wat ook net blah blah blah.

Jacobus ·

Eskom is soos n opgeryde kar wat nooi gediens is nie en nou letterlik uitmekaar val. Eskom kannie en sal nooit weer wees waar hy was nie. Hierdie ANC BENDE gaan die SA BEVOLKING terug vat na vuurmaak vir kos kook en hitte maak. Donker koue tye le vir ons voor.

Andries ·

By ons het al 4 besighede toegemaak agv die kragkrises. Ons slaghuise steier ook om krag op te wek vir verkoeling.

My siening ·

Dankie ANC net die kabinet sal krag hê! Mislukte staat proudly prodused by the ANC ‘n uitvoer produk vir Afrika!

annie ·

Miskien moet steenkool gratis aan die publiek voorsien word. Ons weet wat om daarmee te maak, maar dit mag nie want dan gaan ons alles glo besoedel. ‘n Lekker outydse stoof en Eskom kan sit met sy hoogdrawende fases. Kerse, lampe en ‘n warm Aga, sommer sonder tv of internet en ons geniet weer die lewe.

Kobus ·

Alhoewel dit algemene kennis is dat die ANC as regerende party korrup & onbevoeg is, blameer ek hulle geensins vir die toestand waarin ons onself bevind. Vanaf 1994 en tot Zuma aan bewind gekom het, kon ons in die meeste gevalle die ANC blameer vir baie van die land se probleme.
Nou is dit uit en uit die kiesers wat die ANC kruisie trek wat 100% verantwoordelik is vir die gaotiese toestand van die eens mooi land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.