Meer groenkrag, minder hulp vir SBO’s

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Enoch Godongwana, minister van finansies, het Donderdag skrams na Eskom en die herstrukturering van staatsbeheerde ondernemings (SBO’s) in sy mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) verwys.

Terwyl daar ʼn hernude fokus op groenkrag blyk te wees, sal SBO’s glo ook nie dieselfde finansiële reddingsboeie as voorheen geniet nie.

Eskom, sowel as sy uitvoerende hoof, André de Ruyter, was die afgelope paar dae opnuut onder skoot nadat grootskaalse beurtkrag landwyd in werking gestel is – met kritici wat na die huidige kragsituasie in die land as ʼn “nasionale krisis” verwys.

Die minister het Donderdag gesê dat al die regering se pogings oor die afgelope 13 jaar daarop toegespits was om Eskom te herstel, “eerder as om voorsieningsekerheid aan te spreek deur bykomende kapasiteit by die netwerk te voeg”.

Eskom is destyds ook deur ontleders as ʼn “terminaal siek” SBO beskryf. Dié ondernemings sukkel nie net om dienste volhoubaar te lewer nie, maar dikwels ook om salarisse en lone te betaal – wat al tot verskeie stakings oor die afgelope paar jaar gelei het.

“Ons eerste en onmiddellike taak in dié verband moet wees om stabiele energievoorsiening te verseker, die risiko van beurtkrag te verminder en die oorgang na hernubare energiebronne te versnel.”

Volgens Godongwana het die regering reeds aansienlike vordering hiermee gemaak – met verwysing na die wysiging van die Elektrisiteitsreguleringswet van 2006, wat die drempel vir selfopwekking van een tot 100 MW verhoog.

“Verder sal die gewysigde regulasies munisipaliteite in staat stel om self krag op te wek óf dit direk van onafhanklike elektrisiteitsverskaffers te verkry.”

Godongwana sê voorts dat Suid-Afrika reeds daarin geslaag het om sy afhanklikheid van Eskom te verminder deur “primêre energiebronne te diversifiseer”.

Die minister het veral klem gelê op die 25 groenkragprojekte wat goedgekeur is om nagenoeg 2 600 MW se krag op te wek en tot die nasionale kragnetwerk te voeg.

Dié groenkragprojekte is goedgekeur in die vyfde bodronde van die departement van minerale bronne en energie se groenkragprogram en behels die opwekking van windkrag van sowat 1 600 MW en sonkrag van sowat 1 000 MW.

Dít sal krag glo teen sowat 47.3 sent per kilowattuur kan oplewer – die goedkoopste krag nóg.

“Oor die langtermyn sal die skep van ’n mededingende energiemark help om die koste van kragopwekking te beperk, asook die groei van die bruto binnelandse produk (BBP) ondersteun.”

Herstrukturering van staatsbeheerde ondernemings

Volgens die minister sal daar binnekort nie meer reddingsboeie vir SBO’s wees nie, behalwe onder streng voorwaardes.

“Voortaan is die herstrukturering van maatskappye in staatsbesit ’n prioriteit. In hierdie MTBPS word geen bykomende befondsing vir staatsbeheerde maatskappye verskaf nie.”

Godongwana sê SBO’s is veronderstel om ekonomiese ontwikkeling te bevorder, maar dat baie SBO’s sleg bestuur word en nie presteer nie. Daar sal glo nou strenger op die herstrukturering van SBO’s gefokus word.

“In baie gevalle is hulle ook deur staatskaping verwoes, wat hulle toenemend op staatsondersteuning aangewese maak.”

Die minister het bygevoeg dat die regering sedert 2013 meer as R290 miljard bestee het om maatskappye in staatsbesit te red, “ten koste van belangrike maatskaplike uitgawes”.

Die regering is in die verlede al verskeie kere gekap oor sy beleggings in sukkelende of mislukte staatsondernemings – waaronder Eskom, SAL, Denel, SA Express en Prasa, wat al verskeie kere geldinspuitings benodig het.

Ook Tsakani Maluleke, ouditeur-generaal, het in April vanjaar haar kommer oor wanfunksionerende staatsbeheerde instellings uitgespreek, wat ʼn “beduidende uitwerking op die regering se finansies en mense se lewens het”.

Godongwana sê daar moet egter ʼn bereidwilligheid wees om sommige van die land se staatsbeheerde entiteite te konsolideer en dat die regering dié wat nie meer as strategies relevant beskou word nie, moet laat vaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Keith ·

Weerheens gebruik die ANC die “ons moet….blah blah” woorde … in pleks van “ons gaan….blah blah”. Al wat ek weet is, ons land is finansieel…… diep in die moelikheid.

Shakespeare ·

As Eskom inmekaarstort dan sal Suid Afrika totaal bankrot speel tot op die laagste vlak maar gelukkig het die ANC “a good story to tell”

Baardman ·

Sê weer, gaan kyk na “African Rainbow Power” en wie is verwant aan wie, dan vra ek weer, is die hele verval van Eskom nie dalk deel van n ander plan nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.