Aankondiging oor kragopwekking wyd verwelkom

(Foto: pixabay)

Pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat die drempel vir selfopwekking – sonder ʼn lisensie – van een megawatt tot 100 MW verhoog word, is Donderdag wyd verwelkom.

David Maynier, die Wes-Kaapse LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede, sê beurtkrag kos die ekonomie sowat R500 miljoen per fase per dag. Dit kos die Wes-Kaap sowat R75 miljoen per fase per dag, wat beteken beurtkrag het die Suid-Afrikaanse ekonomie die afgelope twee weke sowat R25 miljard gekos.

Vir die Wes-Kaap was dit ʼn verlies van R3,85 miljard oor dieselfde tydperk.

Die president het vroeër gesê die voortgesette kragtekort en inwerkingstelling van beurtkrag hou enorme gevaar vir die ekonomie in en dat energiesekerheid een van die regering se belangrikste prioriteite is om weer lewe in die ekonomie te blaas.

“Die ingryping is ʼn weerspieëling van ons vasbeslotenheid om die nodige stappe te doen om energiesekerheid te verseker en die uitwerking van beurtkrag op sakeondernemings en huishoudings landwyd te verminder.”

Pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging is wyd verwelkom. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Ramaphosa het ook gesê die stap dui ook op die regering se verbintenis om na kenners te luister, te beraadslaag en nuwe idees ter harte te neem om uitdagings te oorkom.

Volgens Maynier moet die wysigings aan die wetgewing so gou moontlik afgehandel word. Hy sê dit moet ook duidelik uitgestippel word watter projekte deur die verslapping geraak gaan word. Volgens Maynier moet terselfdertyd verseker word dat die uitreik van permitte en registrasiebepalings nie ʼn verdere hindernis word wat onnodige vertragings in die lewering van bykomende krag veroorsaak nie.

“Ons ondervind steeds ʼn kragkrisis en grootskaalse deelname uit die private sektor, in vennootskap met die regering, gaan deurslaggewend wees om die huidige tekort in die Wes-Kaap te pak.

“Hierdie is ʼn positiewe stap wat broodnodige sekerheid aan beleggers en toegang tot bekostigbare, hernieubare energie gaan gee,” sê Maynier.

Dr. Wynand Boshoff, die VF Plus se woordvoerder oor minerale hulpbronne en energie, het ook die besluit verwelkom.

Hy sê dit is ʼn belangrike stap na mededingende kragopwekking in Suid-Afrika, iets wat die VF Plus al jare lank bepleit.

Dit is geen geheim nie dat kragtekorte die grootste hindernis vir ekonomiese groei en werkskepping in Suid-Afrika is.

“Dit is ook lank reeds duidelik dat Eskom weens swak onderhoud in bestaande kragsentrales en rampspoedige bestuur in die konstruksie van nuwes, nie alleen die krisis kan oplos nie. Hierdie krisis is toegelaat om sy loop te neem tot die eindelike ineenstorting van die kragvoorsiener.”

Boshoff sê onafhanklike kragverskaffers het reeds ʼn belangrike bydrae gelewer, maar is deur regulatoriese rompslomp gekortwiek.

Tot onlangs het die minister van minerale hulpbronne en energie, Gwede Mantashe, nog volgehou dat dit net nodig is om die drempel tot 10 MW te verhoog.

Boshoff sê die feit dat dit nou tot 100 MW verhoog word, dui op die omvang van die krisis.

“In hierdie geval is dit nie ʼn wet wat verander moet word nie, maar net die verandering van ʼn skedule wat in die Staatskoerant gepubliseer moet word. Dit verkort die tydsverloop tot die nuwe werklikheid kan intree.”

Boshoff sê dit moet so gou moontlik gebeur.

Connie Mulder, hoof van Solidariteit se Navorsingsinstituut (SNI), het die desentralisering en privatisering van kragopwekking as ʼn reusestap in die regte rigting bestempel en sê dit kan die land se energieprobleme oplos.

“Kleinskaalkragopwekking is ’n sektor wat ongelooflike werkskeppingspotensiaal het; nie net in die sektor self nie, maar ook in die breër ekonomie,” sê Mulder.

“Dit is van kritieke belangrik dat die registrasieproses vir eie opwekking so maklik as moontlik moet wees. Na afloop van 14 jaar is daar genoeg met oplossings getalm – nou moet so vinnig as moontlik beweeg word ten einde die energiekrisis doelgerig tot ’n einde te bring.”

Volgens Mulder is Ramaphosa se aankondiging die eerste stap om die ekonomie te red en is die vooruitsig van ’n stabiele kragnetwerk verblydend.

Hy sê selfs al sou nywerhede slegs krag vir hul eie gebruik kon opwek, dit reeds die druk op die bestaande netwerk kan verlig.

“Iets waaroor meer uitsluitsel nodig is, is Eskom se rol in die toekomstige energiebedeling. Alhoewel hierdie realisties die einde vir die opwekkingsmonopolie is wat Eskom geniet het, moet daar ’n rol vir Eskom in die energielandskap van Suid-Afrika wees om te vervul. Daar is meer sekerheid hieroor nodig vir werknemers sowel as ondernemings,” sê Mulder.

Chris Hattingh, ʼn adjunkdirekteur verbonde aan die Vryemarkstigting, sê dit is belangrik dat die regering hom ten volle tot die proses verbind.

“Die momentum wat deur die hervorming gebied word, moet nou ten volle benut word. Die Vryemarkstigting doen ʼn beroep op die regering om beleid te laat vaar wat groei gaan verhinder en burgerregte gaan ondermyn – en in sommige gevalle reeds doen.”

Dit sluit in onteiening sonder vergoeding, die voorgestelde plan vir nasionale gesondheidsversekering, beperkende arbeidswetgewing wat meer as 11 miljoen Suid-Afrikaners sonder werk laat sit en sogenaamde mededingingsregulasies wat beleggers verjaag.

“Beurtkrag, die gevolg van die regering se besluit om ʼn monopolie op die opwekking en verspreiding van krag te handhaaf, het vir veels te lank die land se ekonomiese groeipotensiaal gepootjie,” sê Hattingh.

Hy sê die verandering aan beleid dui op die gees waarmee die regering beperkings vir groei, innovasie en werkskepping kan uitwis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Aikie ·

Die probleem is net dat onse liewe goewerment wag tot op nommer 99, net voor die pôpô die fan slaan. Dan wil hulle ‘n groot ophef maak oor hoe belangrik die besluit vir hulle is.
Enige ou met twee breinselle kon lankal sien dit is die oplossing. Nou moet ons net hoop en bid hulle sien die lig aan die einde van die tonnel oor die grond eise sonder vergoeding. As die lig nou net nie die aankomende trein is nie.

Jaco ·

En hulle wag tot verby nr 99 as diegene wat wel alternatiewe elektrisiteit kan verskaf, die “verkeerde” velkleur het.

Anel ·

Hoekom nou? O, ja, daar is mos weer ‘n verkiesing op pad!!!!!!

johann ·

Die groot massa is te onkundig om die reëling te verstaan. Dis juis hulle wat reeds vir die ANC stem

Elsa ·

Dankie die volgende persone in die parlement en by Eskom, af.
1. Onbevoegde persone,
2. Persone vir wie pošte geskep is. Sluit hierdie poste

Rian ·

Hoeveel omgkoopgeld sal eers betaal moet word alvorens n lisensie uitgereik word. En sal dit aan witmense uitgereik word?

Smirre ·

beslis wat gaan gebeur, ou af duimpie, kom wys ons asb die suskesse behaal deur die ANC, nee, suskesvol korup wees tel nie.

Keelvol ·

En my krag is alweer af….. hoe los dit die probleem nou werklik op?

Smirre ·

natuurlik sal net “our people” mag voorsien of, met staat subsidies wat in ‘n put verdwyn, ek vertrou die regering glad nie. altyd planne om geld te maak deur iets so mooi kleurvol voor te hou. EK hoop en bid ek is verkeerd, maar ja.

B-Man ·

Kan lank al nie meer glo wat Squirrel se nie. “…verbintenis om na kenners te luister…” – Dis “iets wat die VF-Plus al jare lank bepleit”! Luister asseblief tog verder na die kenners en skaf SEB, minimumloon en NGV af!
Dit gaan seker nog 26 jaar vat.

SjN ·

Lekker klap in gesig van Matashe, hy moet ophou studeer en sy werk doen waarvoor hy hopeloos te veel betaal word.

Blomme ·

Groot ASB moet tog nou net nie weer oor ń week aankondig dat daar fondse beskikbaar sal wees om BEEE ondersteuning in hierdie verband te bied nie.

gatgogga ·

Ek dink ons sien die vrugte van Macron se besoek. Hy het CR se ore kom draai vir hom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.