Meer skole waar niemand slaag ‘kommerwekkend’

Verskeie skole het nie ‘n enkele leerder gehad wat matriek geslaag het nie. (Argieffoto: DA)

Die getal skole waar geen enkele leerder verlede jaar se matriekeksamen kon slaag nie, het sedert 2019 met sowat 38% toegeneem. Dit beteken dat 18 skole ʼn 0%-slaagsyfer behaal het, teenoor die 13 skole in 2019.

Terwyl die lof besing word van die talle skole wat ondanks groot uitdagings steeds uitstekend presteer het in die afgelope matriekeksamen, is daar nie te veel uitgebrei oor dié altesame 18 skole landwyd waar nie ʼn enkele leerder die eindeksamen geslaag het nie. Kenners sê egter die situasie behoort groot kommer te wek.

Naastenby die helfte van dié skole is in Limpopo en meestal in landelike gebiede waar die regering min of geen ondersteuning bied nie. Sommige skole in landelike gebiede het nie eens toegang tot water of elektrisiteit nie.

Provinsie20202019
Oos-Kaap43
Gauteng20
Limpopo97
Nasionaal1813

Bax Nodada, die DA se woordvoerder oor onderwys, sê terwyl die pandemie moontlik bygedra het tot hierdie styging, is dit ook ʼn aanduiding van die sistemiese mislukkings van die departement van basiese onderwys.

“Die departement moet eerlik ondersoek doen na hierdie uitslae om meningsvolle maniere te vind om die stelsel te verbeter en leerders beter voor te berei op ʼn suksesvolle toekoms.”

Hoewel daar ʼn afname was in die getal skole wat ʼn slaagsyfer van minder as 40% behaal het, sê Nodada te veel leerders bly steeds agterweë.

Sowat helfte in Limpopo

Polly Boshielo, LUR vir onderwys in die provinsie, het die afgelope week gesê ʼn gesamentlike 73 kandidate was by dié skole ingeskryf. Sy het die name van sewe skole in haar toespraak genoem, hoewel die nasionale departement van onderwys se syfer die getal skole betrokke in Limpopo op nege plaas

By hierdie skole slaag niemand:

SkoolGetal leerders
Mmadithakadu9
Mashubashuba Secondary7
Kubushe Secondary15
Khesethwane Repeat Part Time (Ralerumo Secondary)22
Kanama Secondary9
Makidi Secondary5
Ngoatoanape Secondary6
Totaal73

Boshielo het die gebrek aan suksesvolle kandidate aan “opvoedkundige nielewensvatbaarheid” van die skole toegeskryf.

Tidimalo Chuene, woordvoerder van die departement, het later by navraag gesê die skole is hoofsaaklik klein en nie lewensvatbaar nie omdat dit tegelykertyd ʼn klein getal onderwysers het wat gewoonlik nié spesialiste in sommige seniorfase-vakke is nie.

“Skole word gefinansier op grond van inskrywings en klein skole soos dié het hulpbronuitdagings. Dit bemoeilik sekere verrykingsprogramme wat in groter skole meer bestuurbaar is,” sê sy.

Chuene sê die departement het verlede jaar “aanspreeklikheidsessies” met individuele streeksbestuurders gehad om te probeer vasstel hoekom sekere skole so swak presteer.

“Ons is ongelukkig deur die Covid-19-afsonderingstyd onderbreek net toe ons die vlak van hoofde bereik het,” sê sy.

“Ons beoog om die sessies vanjaar so gou moontlik te hervat om ons genoeg tyd toe te laat om waar nodig aanpassings te doen voor leerders geassesseer word.”

Basil Manuel, uitvoerende hoof van die vakbond Naptosa, sê die kwessie behoort baie groot kommer te wek. “Een skool waar niemand slaag nie, is een te veel,” sê hy.

“Dat die helfte van die skole in Limpopo is, is selfs meer onrusbarend.

“Daar is agterstande, ʼn gebrek aan oorsig – en die waarskuwingsligte flikker nou al geruime tyd,” sê Manuel.

Hy sê skole – selfs wanneer hulle klein is en soms veral dan – vorm dikwels die spil waarom ʼn gemeenskap draai en wanneer ʼn skool sluit, kan dit ʼn gemeenskap vernietig.

“Waar is die oorsig waarvoor die distrik- en vakraadgewers verantwoordelik is?”

Manuel sê daar word kwartaalliks assessering by skole gedoen. Dit is onaanvaarbaar dat die probleme by die betrokke skole nie vroeër getakel is nie.

“Is onderwysers behoorlik toegerus om die vakke aan te bied en indien nie, wat word gedoen om hulle te steun?”

Hy sê net die kwessie dat verskeie van die skole in landelike gebiede geleë is, is nie ʼn verskoning vir swak prestasie nie. Armoede ook nie.

“Armoede het mense nog nooit laat misluk nie. Daar is talle armer skole wat uitsonderlik goed vaar. Dit kan nie net voor die deur van armoede gelê word nie.

“Dit het te doen met steun en aanmoediging. As jy op daardie glibberige afdraande pad van mislukking is, begin mense moed opgee met jou.

“Hierdie situasie kan nie toegelaat word nie.”

Manuel stem saam dat ʼn behoorlike ontleding van die omstandighede by die skole en die onderliggende faktore wat tot die druipkoers gelei het, gedoen moet word.

“Ons kan nie toelaat dat hierdie kwessie met ons kinders voortduur nie.”

Roné McFarlane, senior bestuurder van ontwikkeling en navorsing by Equal Education, sê dit sal ʼn oorvereenvoudiging wees om afleidings van die gehalte van onderrig in ʼn provinsie te maak, gegrond op hoeveel skole ʼn sogenaamde 0%-slaagsyfer behaal het.

“Dit is nie verrassend dat byna al die skole, met die uitsondering van twee skole in Gauteng, in landelike provinsies is en dat ʼn provinsie soos Limpopo ʼn hoë aantal van die skole het nie,” sê McFarlane.

Sy sê al die betrokke skole is klein – sommige met slegs twee leerders.

“Weens die feit dat die bevolking in plattelandse provinsies meer wydverspreid is, sal dié provinsies geneig wees tot meer, kleiner skole.”

McFarlane sê meer agtergrondinligting is nodig om die skole se swak vertoning te verstaan – en of dit werklik ʼn weerspieëling van die skole se gehalte is.

Sy stem saam dat kleiner skole dikwels sukkel om spesialisonderwysers te lok en hulle het soms nie eens toegang tot water en elektrisiteit nie.

“Omdat daar soveel minder leerders is, is die slaagsyfer veel gevoeliger vir ʼn klein getal leerders wat druip: Twee leerders wat druip, lei tot ʼn 0%-slaagsyfer vir dié skole, terwyl dit kwalik die koers van ʼn groter skool sal raak,” sê McFarlane.

Nodada sê ook die skole waar niemand geslaag het nie, ontvang nie behoorlik steun van die departement nie en meen dit is die leerders wat uiteindelik die gevolge daarvan dra.

“Hoeveel geslagte kinders moet nog ly omdat die departement weereens sukkel om sy sake in orde te kry?

“Die departement moet sy kop in skaamte laat sak oor die goor omstandighede waarin hy leerders by sommige van hierdie skole laat klasdraf.

“Skole is veronderstel om ʼn liefde vir leer te kweek. Hulle moet kreatiwiteit en innovering aanmoedig en veilige hawens vir leerders wees waar hulle toegerus word vir ʼn blink toekoms – nie plekke waar hulle belas en gedemoraliseer word nie,” sê Nodada.

Só gaan departement ingryp

Sommige skole beskik nie eens oor die mees basiese hulpbronne nie. (Argieffoto: DA)

Elijah Mahlangu, woordvoerder van die nasionale departement van onderwys, sê die departement sal die betrokke skole besoek en vasstel wat presies die oorsaak vir die powere uitslae is.

“Die distrikskantore gaan dan gepaste stappe doen om die situasie te beredder. Dit sluit in die aanstel van ʼn hoof as daar nie een is nie, of om die skoolhoof te vervang.

“Dit behels ook die inwerkingstelling van ʼn teikenskoolverbeteringsplan wat behels dat die skool elke dag besoek word om hulle te ondersteun,” sê Mahlangu.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Corne123 ·

Hierdie is n baie mooi voorbelled van hoefeel ANC omgee Skole vord verwaarloos en net so gelos maar dit is meer belangrik om eerder n plek se naam te verander as om aan skole en die land se toekoms aandag te gee.

SomeOne ·

komaan lesoefie, maak jou slap oe oop en los die wit skole uit, help met die basiese middels in daardie skole, mtetwa, gebruik jou geld wat jy so mors op plekname en help lesoefie met skole

Sonneblom23 ·

Dis eintlik hartseer. Daai kinders gaan skool toe met die hoop om te leer en iets van hul lewens te maak. En dan kry jy mense wat daaroor lag… die kinders het nie hul agtergrond gekies nie. Dis n skande dat daar nie meer gedoen word vir kinders se opvoeding nie.

Mariana ·

Elke kind in die wêreld moet die reg hê op goeie onderwys. Miskien moet daar gekyk word na skole met koshuise waar die leerlinge in hul matriekjaar kan gaan bly en studeer, die regering spandeer miljoene aan plekname wat moet verander en ander snert en dit terwyl die kinders geen hulp het vir hul skole nie. Dit is ‘n skande. . Mens kan ook nie verstaan dat onderwysers wat bekwaam is, sonder werk sit en kinders wat hulle sal waardeer, sit met die wat hulle nie kan help nie……hierdie land het reeds groot agterstand teenoor res van wêreld wat onderwys betref.

SomeOne ·

leerders vee hul blakers af waar daar met hul gepraat word, hulle doen net wat hulle lus voor het in die klaskamer, praat met mekaar, party speel op hul selfone, indien hul een het, wanneer die onderriggewer probeer klas gee

Ivana ·

Ek dink hier is dit nie die kinders wat n probleem is nie, maar duidelik n probleem het – hul onderwysers is dan beslis nie bevoeg om hulle te leer nie

Laurika ·

Mag ek dan asb net een vraag vra? Wat presies het die regering sedert 1994 nou eintlik reg gekry?

Persheks Adri ·

Absoluut niks nie behalwe om ons die hel in te maak gggmmmfff

Chris dupreez ·

Dit is in malema se provinsie, dan kom spring hy op en af in ander provinsies oor skole en universiteite, hy weet hy gaan niks aan daai skole in limpopo doen nie want daar sal nie tv kameras wees nie

Mauritz ·

Daar is tog sekere basiese fasiliteite wat nooit deur die getal leerders bepaal kan word nie. Dinge soos ordentlike klaskamers (al is dit net een of twee), behoorlike toiletgeriewe, water, elektrisiteit, studiemateriaal, ens.

Gert ·

En moenie vergeet as die ouers en leerlinge vies word vir disepliene nie en dan die skool en biblioteek afbrand nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.