Meer vraetyd, swepe vir VF Plus in nuwe parlement

Dr. Pieter Groenewald. Foto: VF Plus

Die VF Plus het die eerste tasbare vrugte van hul verbeterde verkiesingsvertoning gesmaak toe verskeie van die nuwe strukture waarvolgens die pasverkose parlement sal funksioneer, vanoggend tydens die eerste vergadering van die reëlskomitee uitgestryk is.

Eerstens sal die party ’n ekstra sweep bykry nadat dr. Corné Mulder die juk die afgelope twintig jaar alleen moes dra, en tweedens gaan daar baie meer vraetyd as tevore wees vir die VF Plus om die kabinet op hul tone te hou.

Een groot kwessie wat nog nie uitbaklei is nie, is hoeveel spreektyd per debat elke party sal kry. Dit moet min of meer proporsioneel toegewys word, maar dis nooit ’n presiese som nie, en die slagveld daarvoor is die programkomitee, wat Donderdagoggend om 09:00 vir die eerste keer byeenkom.

Tydens elke vraesessie sal die ANC voortaan sewe vrae kry, die DA drie, die EFF twee, die IVP een, die VF Plus een en kleiner partye gesamentlik een. In die verlede is die VF Plus saam met die kleiner partye ingedeel, maar nadat hul aandeel in die stem met die afgelope verkiesing meer as verdubbel het, is dit nou nie meer die geval nie.

Portefeuljekomitees se 11 lede word voortaan saamgestel uit ses van die ANC, twee van die DA, een van die EFF en twee van die kleiner partye.

Ledeverklarings – daardie kort toesprake wat LP’s oor enige onderwerp kan maak teen die einde van die dag se verrigtinge – sal voortaan uit 17 spreekbeurte bestaan waarvan die ANC sewe sal kry, die DA drie, die EFF twee, die IVP een, die VF Plus een en die kleiner partye drie, op ’n rotasiebasis.

Wat swepe betref, kry die ANC 35, die DA 13, die EFF sewe, die IVP twee, die VF Plus twee, die ACDP een en die kleiner partye twee tussen hulle almal, volgens onderlinge ooreenkoms.

Die Nasionale Vergadering gaan nou 29 portefeuljekomitees hê, agt minder as tevore. Dit weerspieël die kleiner kabinet, asook die daarstel van die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), die begrotingskomitee en die staande komitee oor die ouditeur-generaal.

Die IVP, die DA en die ACDP het aangedring op ’n portefeuljekomitee vir die presidensie. Daardie kwessie sal verder bespreek word, het die reëlskomitee ooreengekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

schaun ·

Gebruik asb die eerste vraag om uit te vind hoe lank die regering nog die diskriminerende wette teen minderhede gaan handhaaf?

koos ·

Ek verstaan dat in die parlement hulle oggend en aand praatjies nie ooreen stem nie, maar vergader hulle nou 21:00 in die oggend, om ons nog meer deurmekaar te maak????

Sune van Heerden ·

Dagsê Koos

Die “21:00” was ‘n fout, jammer daaroor!
Die berig is nou gewysig om die korrekte tyd, Donderdagoggend om 09:00, aan te dui.
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Werner ·

En hoe gaan dit ons nou help al wat dit beteken is dat ons langer na liegstories moet luister

Cherokee ·

Ek hoop die VF weet hoe om ‘n sweep te hanteer. Dit is ‘n spesiale kuns wat slegs toeka se jare se boere kon doen. Nou wag ek om te hoor hoe dit klink as die VF die sweep laat klap.

Sarel ·

Ek vertrou julle wat so kwistig neerhalende kritiek lewer het VF+ gestem, Indien nie moet julle julself dalk intoom hou en besef dat die 2 dalk 3 kon gewees het maar danksy julle nie gebeur het nie.

Dom ·

Wat is n sweep? Wat doen n sweep. Dit is nou in die parlement.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.